Alles in Suid-Afrika wat nog goed funksioneer moet afgetakel en leeggemelk word terwyl daar geen teken is van nuwe staatinisiatiewe om die staatskoffers aan te vul nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.
Adv. Alberts sê ‘n berig in die afgelope naweek se Sunday Times oor ‘n belasting van 5% wat moontlik gehef gaan word op die verkope van kaartjies by ‘professionele sportgeleenthede’ in Suid-Afrika, is verontrustend.
“Daar is groot druk op die tradisioneel gewaande wit sportsoorte soos rugby en krieket om die sport onder die swart gemeenskap te laat groei om die regering se rasse-teikens te haal.
“Die regering se bydrae in hierdie opsig deur raad, daad of geldelik, is onbeduidend en dit plaas ‘n groot las op die sportsoorte om kop bo water te hou. Sport kan nie die melkkoei van die ANC word nie.
“Dit is bekend dat borge in hierdie moeilike ekonomiese tye nie toustaan om selfs rugby en krieket te borg nie. Die Springbok-rugbyspan het byvoorbeeld nou ter elfder ure ‘n borg gekry wat hulle vir net die reeks van drie toetse teen Ierland gaan borg.
“Daarenteen swyg die regering as die bankrot SAL, wat met belastinggeld aan die lewe gehou moet word, die land se powere sokkerspan met miljoene borg wat in effek daarop neerkom dat die belastingbetaler die span borg.
“Die VF Plus sal hierdie poging van die ANC op elke moontlike wyse teenstaan en vra die publiek se steun hiermee,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403