fbpx
Vryheidsfront Plus

Sonder ‘n goeie vervoerstelsel kan ekonomie nie groei nie

(Begrotingsdebat in parlement: Vervoer)

Die vervoerstelsel van ‘n land is een van die belangrikste komponente van ‘n gesonde en groeiende ekonomie en die begroting daarvoor is ‘n weerspieëling van die waarde wat ‘n regering daaraan heg.

Suid-Afrika se openbare vervoerstelsel het feitlik tot stilstand gekom met ‘n begroting wat algaande verminder het.

So erg is hierdie agteruitgang dat taxi’s, wat sowat 16 miljoen mense per dag vervoer, die rol van ‘n openbare vervoerder oorgeneem het.

Om die situasie te verbeter, sal paaie en die spoorstelsel opgeknap en onderhou moet word. Dit is daarom verblydend om te sien dat Sanral wel goeie werk lewer waar hy betrokke is om paaie te verbeter.

Die lewensgevaarlike toestand van provinsiale paaie vereis egter daadwerklike aandag.

Die probleem hier is in baie gevalle dat provinsies hul begroting vir ander doeleindes as paaie aanwend en min of geen onderhoud aan paaie doen nie.

‘n Oplossing hiervoor is om alle paaie aan Sanral oor te dra.

Suid-Afrika se spoorvervoerstel is in ‘n haglike toestand terwyl dit in die vorige bedeling voortreflik gefunksioneer het.

Van die redes hiervoor was ‘n eie spoorwegpolisiediens wat die verlammende effek van misdaad voorkom het én die veiligheid van passasiers gewaarborg het. Reiskoste was laag en die diens stiptelik en betroubaar.

Die private sektor sal betrek moet word om die diens weer funksioneel te maak. Dit is daarom verblydend dat dit in die vooruitsig gestel word.

Landbou is een van die belangrikste werkverskaffers in die land en tog moet boere in sekere dele van die land self paaie in stand hou en groot onkoste vir voertuie aangaan omdat spoorvervoer in duie gestort het.

Die gevaarlikste pad in Suid-Afrika is die R573 Maloto-pad in Mpumalanga waar meer as 10 000 mense die afgelope dertien jaar in motorongelukke gesterf het.

‘n Beter spierstelsel kan veel doen om die druk op dié pad te verlig en lewens te red.

Daar is konsensus onder die parlementêre portefeuljekomitee vir vervoer dat die departement se begroting aangevul moet word, dat senior poste gevul word en veral dat die druk van die land se paaie deur ‘n beter spoorstelsel verlig moet word.

Dit is jammer dat die regering toegelaat het dat die land se vervoerstelsel so drasties agteruitgaan. Suid-Afrika se mense verdien beter as die ANC.

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.