Die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Richie) wat gister sy konsepbegroting vir die 2022/23-finansiële jaar ter tafel gelê het, betoon min simpatie met sukkelende huishoudings en ondernemings met die aankondiging van verhoogde tariewe vir elektrisiteit, vullisverwydering, sanitasie en water.
Die voorgestelde tariefverhogings is soos volg:
Eiendomsbelasting: 6,82 %
Elektrisiteit: 6,84%
Water: 5,86%
Sanitasie: 4%
Vullisverwydering: 4%
Die VF Plus is nie gekant teen tariefverhogings nie, maar dan moet dit billik wees en die huidige ekonomiese klimaat en inwoners se finansiële posisie in ag neem.
Sol Plaatje se skuldinvorderingskoers vir diensterekening is net effens meer as 55% en sal toeneem omdat inwoners bloot nie die tariefverhogings sal kan bekostig nie.
Die meeste van die tariefverhogings is meer as die huidige inflasiekoers van 5,7%.
Verder wil die munisipaliteit hierdie verhogings instel teen die agtergrond van swak dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur.
Dit is belangrik om Sol Plaatje daaraan te herinner dat meer as helfte van die water wat uit die Vaalrivier gepomp word, verlore gaan sonder om gefaktureer te word.
Alhoewel Nersa grootliks die elektrisiteitstariefverhoging bepaal, kan die munisipaliteit ook beter van sonkrag gebruik maak deur dit aktief by verbruikers aan te moedig en selfs van munisipale geboue se dakke af op te wek en te verkoop.
Die voortslepende rioolkrisis moet ook hanteer word, want dit is immers waarvoor 'n deel van die heffings bedoel is.
Die konsepbegroting is vir twee maande aan 'n openbare deelnameproses onderhewig.
Inwoners wat insette wil lewer, is welkom om met die VF Plus se raadslede in die munisipaliteit te skakel vir meer inligting.