fbpx
Vryheidsfront Plus

Sogenaamde ‘Bela Bill’ is verouderd nog voor dit wet is – VF Plus wil wetskrywers terug tekenbord toe stuur

Die VF Plus loods vandag 'n veldtog om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (algemeen bekend as die Bela Bill) te laat onttrek.

Ingevolge dié wetsontwerp moet skoolbeheerliggame die verantwoordelikheid vir skole se taal- en toegangsbeleid aan provinsiale departementshoofde afstaan.

Verder het ontwikkelings rondom die Covid-19-pandemie onderwys onherroeplik verander, sodat selfs van 'n onderwysrewolusie gepraat kan word. Hierdie wetsontwerp, wat in 2017 geskryf is, sal dus verouderd wees nog voordat dit wet is.

Die tema van die VF Plus se veldtog is: "Lui die klok oor die Bela Bill!" Dit is omdat die portefeuljekomitee vir basiese onderwys vandag 'n openbare-deelnameproses loods, wat tot 30 April om 16:00 strek.

Jan en San Alleman, vir wie onderwys belangrik is, het dus kans om die parlement te oortuig dat hierdie wetsontwerp nie wet moet word nie.

Die VF Plus se beleid is dat onderwys in die hande van die gemeenskap behoort te wees.

In talle lande met ‘n kulturele verskeidenheid, is onderwys 'n bevoegdheid van gemeenskapsrade, eerder as van die nasionale regering.

Ervaring het die VF Plus geleer dat sentralisering in Suid-Afrika gebruik word om die nasionale regering se sosio-politieke agenda op skole af te druk, alhoewel voorgegee word dat goeie bestuur die eintlike doel is.

Daarom is die party uiters skepties oor die oordrag van bevoegdhede van skoolbeheerliggame na die provinsiale departementshoof.

Die rigiede onderskeid in die wetsontwerp tussen skole en tuisskole is eenvoudig uit voeling met die werklikheid.

Mikroskole, waar 'n paar gesinne saam tuisskool beoefen, is hiervolgens 'n onafhanklike skool, wat die wet verbreek tensy daar aan 'n lang lys vereistes voldoen word.

Aanlynklasse, diensverskaffers wat tuisskole en mikroskole met assessering en selfs huiswerk bystaan, en gewone skole wat 'n bystanddiens aanlyn aanbied, het tradisionele grense laat vervaag. Dit word egter nie in hierdie wetsontwerp verreken nie.

Minister Angie Motshekga het onlangs verreikende veranderings aangekondig oor hoe die departement van basiese onderwys skoling voortaan gaan benader.

Sy wil moedertaalonderrig uitbrei, sodat sprekers van alle inheemse tale die voorreg het wat slegs Afrikaanse leerders tans geniet, naamlik om in hul eie taal tot die hoogste moontlike vlak skool te gaan.

Verder word onderwys só aangepas dat leerders wat nie ná skool verder gaan studeer nie, beter vir die werksplek voorberei is. Hierdie verwikkelinge is ook nie deel van die wetsontwerp nie.

Volgens die VF Plus is dit veel beter om die ‘Bela Bill’ te herroep, sodat 'n nuwe wet, wat met die tyd in pas is, geskryf kan word.

Klik hier (https://forms.gle/B1tMxeumemvdyiAcA) om die VF Plus se aksie te steun, maar tog jou eie stem te laat hoor; en hier (https://www.parliament.gov.za/bill/2300398) om die volledige teks van die wetsontwerp te kry.

Alle insette wat deur die VF Plus ontvang word, sal op 30 April aan die portefeuljekomitee vir basiese onderwys oorhandig word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.