Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Slaggate ‘n tasbare bewys van verval in land (Debat in parlement: Negatiewe impak van vragmotorvervoer)

Slaggate in die land se paaie, wat ’n tasbare bewys is van die algemene verval in dienslewering, kan grootliks toegeskryf word aan die verweer wat swaar en oorlaaide vragmotors veroorsaak.

Daar gaan waarskynlik ook nie ’n dag verby waar ’n gesin nie moet rou oor ’n geliefde wat weens onveilige paaie in ’n motorongeluk gesterf het nie.

Soos elders in die land, laat paaie op plekke in die Noord-Kaap ’n mens geskok. Dáár kan gesien word hoe ertsvragmotors ’n pad totaal kan vernietig. Slaggate tot twee meter wyd en so diep dat ’n kruiwa daarin kan verdwyn.

In die omgewing van Loerie en Patensie in die Oos-Kaap vanwaar sitrus- en groenteboere die Nelson Mandelabaai-metro se kosmandjie vul, is die situasie nie veel beter nie.

Dit is jammer dat boere, wat op elke gebied onder groot druk is, ook hier self moet pa staan vir skade aan hul voertuie en produkte.

Dit terwyl landbou soveel doen vir werkverskaffing in die land.

Soos in die Noord-Kaap waar swaar vragmotors paaie uittrap, staan ’n mens verstom om geen weegbrug aan te tref nie. Sonder die nodige polisiëring is dit ’n gegewe dat vragmotors oorlaai sal wees.

Ewe verstommend is die feit dat die owerhede op alle vlakke van regering hulle nie steur aan onderhoud nie en eers iets wil doen wanneer ’n pad totaal vernietig is en herbou moet word.

Munisipaliteite in die Oos-Kaap is nie eens in staat om teer aan private persone te verskaf om slaggate te herstel nie.

Dit terwyl hulle wel fondse kry om paaie te onderhou. Dié geld word egter elders vermors.

Van staatskant word gereeld gepraat oor die belangrikheid om terug te beweeg na spoorvervoer.

Dit is ook wensdenkery aangesien die spoorvervoerstelsel byna meer gehawend as paaie is. Die spoor-infrastruktuur word op groot skaal geplunder al word miljarde jaarliks bestee aan sekuriteit.

Die regering het onlangs begin met Operasie Vala Zonke om slaggate landwyd te herstel. Dit is soos om pleisters op oop wonde te plak, maar is sekerlik beter as niks.

Die VF Plus sal nogtans in die belang van almal in Suid-Afrika die vordering van hierdie projek monitor.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.