Die voorsitter van die ANC se subkomitee oor maatskaplike transformasie en minister van toerisme, me. Lindiwe Sisulu, se uitspraak dat skole net geregistreer behoort te word as dit ewe veel swart en wit kinders bevat, wys tot watter mate die ANC besig is om tred met die werklikheid te verloor.
In 'n land waar meer as 80% van die bevolking swart en minder as 9% wit is, kan skole nie om die helfte bevolk word nie – tensy die bedoeling is dat party skole oorwegend swart mag wees, maar geen skool oorwegend wit nie.
Die aanspraak dat transformasie bloot op gelykheid mik, word daardeur verkeerd bewys.
Verskeie koerante en elektroniese nuusplatforms het na Sisulu se uitspraak Dinsdag tydens ‘n nuuskonferensie verwys.
Sisulu verwys ook in ‘n mediaverklaring na die onvoltooide proses van transformasie wat met die Vryheidsmanifes begin het en met die heropbou- en ontwikkelingsprogram voortgesit is.
Dit bespreek behuising, geslagsgeweld en 'n basiese inkomstetoelaag. Dit vra ook hoe volhoubaar die instandhouding van rasgegronde identiteitsmerkers is en of dit nuwe anomalieë skep. Maar niks oor onderwys nie.
Die eerste en vanselfsprekende vraag oor die minister se 50;50-stelling is hoe haar wiskunde werk. Daar is egter politieke vrae wat selfs belangriker is.
Luidens die berigte beteken transformasie vir Sisulu dat almal in Suid-Afrika tot een kultuur ("volk" luidens Netwerk 24 se berig: “Sisulu sê ANC sal na verhouding van swart en wit in skole kyk”) moet saamgroei.
Watter taal sal daardie “volk” praat? Sal al die kinders dieselfde inisiasieskole moet bywoon? Wat sy beskryf is imperialisme, een van die mees onderdrukkende vorms van transformasie in die geskiedenis.
Sisulu gee stukrag aan die stelling van Gauteng se ANC-voorsitter, Panyaza Lesufi, dat die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwys (algemeen bekend as die Bela Bill) se doel is om Afrikaanse skole te beëindig. Dit is juis waarom die VF Plus 'n "Stop Lesufi"-veldtog dryf.
Die VF Plus beskou Suid-Afrika as 'n gemeenskap van gemeenskappe. In só 'n wyer gemeenskap is dit van kernbelang dat elke samestellende gemeenskap se kultuur gekoester pleks van onderdruk; en gebou pleks van afgebreek word.
Met hierdie uitspraak wys Sisulu opnuut dat Suid-Afrika in 2024 die stembus moet gebruik om van die ANC ontslae te raak. Daar is immers geen verbetering sonder verandering nie.