Berigte wat Sanral se hoof, Nazier Alli, verbind met beweerde ongerymdhede rondom die beoogde N2 Wildekus-tolroete tussen Durban en Oos-Londen, bevestig opnuut die ondeursigtige prosesse wat Sanral in sy werksaamhede volg, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens Eyewitness News het Sanral erken dat hy bedrogklagte ondersoek na aanleiding van dokumente wat Alli by die hof ingedien het en wat deel vorm van Sanral se regstryd oor die bou van dié tolpad in KwaZulu-Natal.
Die klagte behels dat gemeenskappe beweer hulle is nie die geleentheid gegun om insette te lewer oor die wenslikheid van die pad nie, terwyl Alli glo in ‘n eedsverklaring aanvoer dit is wel gedoen.
Adv. Alberts sê die VF Plus is ‘bekommerd’ oor die uitbreiding van e-tol na ander gebiede en die herhaling van swak openbare deelname en inkoop van die publiek soos wat die geval in Gauteng was.
“Die bewerings, en die blote feit dat gemeenskapsgroepe die bou van die tolpad opponeer, is voldoende bewys dat Sanral nie met al die belanghebbendes gekonsulteer het nie.
“Dit bewys hoe ongevoelig dié staatagentskap met die belastingbetaler en padgebruiker omgaan in die uitvoering van sy mandaat om paaie te bou en te onderhou. Hierdie kwessie rondom Alli moet tot op die been oopgevlek word, en indien bedrog gepleeg is, moet vervolging ingestel word.
“Dit is steeds die VF Plus se mening dat die besparings wat geskep kan word deur bloot korrupsie en wanadministrasie uit te roei, genoeg sal wees om Gauteng se e-tolskuld in een betaling te delg.
“Die Suid-Afrikaanse publiek is voos belas en het die punt bereik waar belastingopstand reeds begin plaasvind, soos die weerstandigheid teen Gauteng se e-tol nou wys.
“Met die verhoging van persoonlike belasting hierdie jaar gaan al hoe meer mense wyses vind om nie meer belasting te betaal nie. Sanral en die regering moet hiervan kennis neem,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403