Jarelange uitsprake van die VF Plus dat die Gautengse e-tolstelsel ondeurdag en nie haalbaar is nie en gepaardgaande aksies om dit te stuit, is nou reg bewys deurdat die Gautengse premier, mnr. David Makhura, in sy provinsiale rede Maandag eindelik erken het e-tol ‘werk nie’.
Makhura het onder meer gesê hy sal met pres. Cyril Ramaphosa praat om ‘n meer ‘billike model’ te vind om Gauteng se padnetwerk en openbare vervoerstelsel te befonds.
Een aangeleentheid wat Sanral onmiddellik sal moet aanspreek is die wye litigasie wat oor die jare rondom die verset teen die onbillike stelsel ontstaan het, veral Sanral se dagvaarding van padgebruikers en teistering deur middel van sms-aanmanings. Die VF Plus sê jare lank reeds dit is onbillik en premier Makhura het dit nou bevestig.
Die VF Plus eis dus dat alle litigasie en hangende hofsake sonder meer gestaak moet word. Een hiervan is die sogenaamde toets-saak wat tans namens ‘n gedagvaarde padgebruiker deur OUTA bestuur word.
Die Tolhek Aksiegroep (TAG), waarvan die lede bestaan uit die Nasionale Belastingbetalersunie, die Transvaalse Landbou-Unie, en die Vryheidsfront Plus, het aansoek gedoen om as vriend van die hof toegelaat te word in die saak.
TAG wil in die hoofverhoor aanvoer dat die e-tolinstrumente en -stelsels nie voldoen aan die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) nie en daarom onwettig bedryf word. TAG se aansoek om as vriend van die hof toegelaat te word, sal op 4 Junie vanjaar in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor word.
Die wet, en sy voorganger die Wet op Handelsmetrologie, vereis duidelik dat ‘n metingstandaard ingestel moet word vir tolinstrumente en die instrumente moet voldoen aan standaarde.
Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het lank reeds aan die VF Plus bevestig dat nie een van die e-tol-meetinstrumente selfs 'n metrologiese standaard het nie. Dit beteken die instrumente is onwettig die land ingevoer, onwettig geïnstalleer en word onwettig gebruik. Sanral het deurentyd hierdie onwettige instrumente gebruik om padgebruikers te dagvaar.
Dit is ook jammer dat soveel belastinggeld intussen op hofsake vermors is in ‘n desperate poging van Sanral om die stelsel op die mense van Gauteng af te dwing.
Die VF Plus sal, soos hy jare reeds doen, aanhoudende druk op Sanral plaas om die stelsel te skrap en so ook alle litigasie wat daarmee gepaard gaan.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216