fbpx
Vryheidsfront Plus

Sanral mag nie vir e-tol dagvaar weens VF Plus se klag by Verbruikerskommissie

Terwyl Sanral deeglik daarvan bewus is dat die Nasionale Verbruikerskommissie tans ondersoek doen na die ongeldigheid van Sanral se meetinstrumente, probeer hy steeds op ‘n oneerlike wyse om padgebruikers te dreig met dagvaardings vir e-tol-rekeninge, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Sanral se jongste dreigement is dat motoriste wat teen middernag vandag nie hul agterstallige e-tolskuld betaal het nie, siviel gedagvaar sal word.

Adv. Alberts sê die dreigement is opportunisties en oneerlik, en toon opnuut Sanral se minagting teenoor die Nasionale Verbruikerskommissie asook die kommissie se prosesse om sake te bereg.

Hy sê die VF Plus het reeds namens alle rekeninghouers ‘n klag by die Verbruikerskommissie ingedien waarin geargumenteer word dat Sanral se meetinstrumente nie voldoen aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014)nie.

Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat Sanral nooit aansoek gedoen het om sertifisering nie.

“Totdat die kommissie nie hieroor ‘n bevinding gemaak het nie, kan Sanral dus geen rekening uitreik of stappe neem om geld in te vorder nie aangesien hy moontlik die wet oortree en alle rekeninge daarom onwettig sal wees.

“Volgens die VF Plus se regsadviseurs kan enige persoon wat gedagvaar word, die feit dat die saak tans voor die NVK dien as argument gebruik om die saak te laat uitstel. Sanral moet kennis neem van die feit dat dit ‘n misdryf is om in te meng met die werksaamhede van die Verbruikerskommissie.

“Die VF Plus het die Verbruikerskommissaris reeds in kennis gestel van Sanral se minagtende optrede teenoor die kommissie en hom versoek om Sanral dienooreenkomstig op terme te plaas.

“Die VF Plus het onlangs ingevolge ‘n versoek van die Verbruikerskommissie ‘n konsiliasie-vergadering met Sanral gehou waar Sanral erken het dat hy geen skriftelike bewyse van die NRVS het oor die wettigheid van sy meetinstrumente nie.

“Dit is duidelik dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, bloot op grond hiervan onwettig sal wees. Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus immoreel en ongrondwetlik is,” sê adv. Alberts.

Indien enige persoon gedagvaar word sal die VF Plus gratis advies gee. Ons kan gekontak word by help@vfplus.org.za.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 

 

 

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.