Die versoek van die SAL aan Bidvest om 30% van sy filiaal wat vliegtuigtoilette skoonmaak oor te dra aan ‘n swartbemagtigingsvennoot van die SAL se keuse, is uiters verdag en boonop ‘n verbreking van die Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)-Wet en –Kodes, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Luidens ‘n berig in City Press die afgelope naweek het Bidvest dit duidelik gemaak dat sy filiaal BidAir Services reeds swart eienaarskap van 63,42% het en dat swart vroue ’n belang van 24,85% in die onderneming besit.
Adv. Alberts sê dit oorskry die voorgeskrewe SEB-bepalings verreweg. Die bepalings is onder meer dat ondernemings met ’n omset van tussen R10 – en R50 miljoen ten minste 25% swart aandeelhouding moet hê.
“Die VF Plus gaan die kommissie vir Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) nader om ondersoek te doen na die moontlike verbreking van SEB-wet en Kodes. Die SAL wil Bidvest dwing om feitlik sy totale filiaal aan swart eienaars oor te dra.
“Dit wil voorkom of Yakhe Kwinana, die nie-uitvoerende direkteur van SAL, in die proses ‘n mes teen Bidvest se keel hou aangesien Bidvest se toekomstige deelname aan SAL-tenders in die gedrang kan kom indien hy sou weier.
“Kwinana sal moet verduidelik wie die swart bemagtigingsmaatskappy is, en wat sy bande met hom is,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403