Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

SA regering moet sê oor spioenasie-beweringe in China wat Suid-Afrikaanse burgers betrek

Die VF Plus het vandag in ‘n dringende skrywe aan die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, ‘n beroep op die minister gedoen om te antwoord op bewerings wat Suid-Afrikaners by spioenasie in China betrek.

Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie en staatsveiligheid, sê die aangeleentheid maak wêreldwyd opslae, en Suid-Afrika kan nie bekostig om na die Fifa-sokkerskandaal en die Omar al-Bashir-aangeleentheid in nog ‘n internasionale skandaal betrokke te raak nie.

“Indien enige of al die Suid-Afrikaners onskuldig by hierdie saak betrek word, is dit die plig van die regering om so gou as moontlik enige twyfel daaroor uit die weg te ruim.

“Die regering se poging tot dusver om ‘n kleed van geheimhouding oor die aangeleentheid te trek, doen meer kwaad as goed. Indien die Suid-Afrikaners burgers by geen ongerymdhede betrokke was nie, moet dit onomwonde gesê word met die nodige bewyse indien nodig,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald sê hy wil dit duidelik stel dat die VF Plus in sy aanvanklike verklaring geen Suid-Afrikaner direk met spioenasie verbind het nie.

Die betrokke deel van die VF Plus se verklaring gister lui: ‘Die VF Plus se inligting is dat gevorderde tegnologiese toerusting wat in spioenasie gebruik kan word, by van die mense in die toergroep gevind is en wat op data in rekenaars en bedieners kan spioeneer. Niemand is glo tot op hede formeel aangekla nie…’

Die VF Plus se skrywe aan die minister lui onder meer:

‘Betroubare inligting wat die VF Plus ontvang het, dui daarop dat ‘n lid of lede van die oorspronklike toergroep, wat mense van verskeie nasionaliteite insluitende Suid-Afrikaners insluit, in besit gevind is van gevorderde tegnologiese toerusting wat vir sabotasie gebruik kon word.

‘Aangesien Suid-Afrika nie kan bekostig om ingesleep te word by ‘n internasionale skandaal met China, die land se grootste handelsvennoot nie, versoek die VF Plus u departement om in die belang van almal in Suid-Afrika die beweringe op te klaar om sodoende Suid-Afrika se goeie naam en reputasie in die buiteland te beskerm’.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.