fbpx
Vryheidsfront Plus

SA moet goeie betrekkinge met handelsvennote handhaaf

Een van die primêre take van ‘n verantwoordelike regering wat homself verbind tot die beskerming van menseregte, ‘n groeiende ekonomie en voedselsekuriteit, is om goeie verhoudinge met sy belangrikste handelsvennote te handhaaf, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Adv. Alberts het vandag met die parlementêre debat oor die invloed van onderhandelinge op die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGGW) gesê vir Suid-Afrika beteken dit dat verhoudinge met die Europese Unie (EU) en Amerika te alle tye ten minste neutraal moet wees al het ons deel geword van BRICS. Ons ekonomie is steeds baie afhanklik van buitelandse beleggings.

Hy het gesê alhoewel Suid-Afrika onder die vorige bestel aan die ontvangkant van sanksies was, het die ANC-regering in hierdie opsig ‘n tuisdoel aangeteken en daarin geslaag om sanksies op homself toe te pas.

“In die eerste plek is dit gedoen deur die skep van beleidsonsekerheid. Die ANC dink hy kan ‘n belaglike stuk beleid uitdink en dan later weens protes onttrek sonder enige skade aan die land se reputasie.

“Wat die AGGW aanbetref het die geveg nie net oor hoenders gegaan nie. Amerika is ook bekommerd oor die seine wat gestuur word deur onsinnige beleid soos die buitelandse beleggersverbod op aandeelhouding in sekuriteitsfirmas en grond asook die beperkinge wat Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) op beleggers plaas.

“Hierdie beleidstukke skree aan die buiteland: Julle is nie welkom hier nie! Oor dit alles staan in groot rooi letters geskryf: ‘Xenophobia ‘.

“Die tweede probleem is die eensydige kansellering van die land se beleggingsverdrae met getroue handelsvennote. Terwyl die verdrae verval, wag die wêreld steeds in spanning op wetgewing wat hierdie situasie moet ondervang.

“Dit skep net meer onsekerheid vir buitelandse beleggers. Waarom sal iemand hier belê indien hy weet die staat kan as voog beslag lê op sy bates met die gevolg dat daar regtens geen vergoeding betaal hoef te word nie?

“Die derde probleem is die ANC-regering se doelbewuste veronagsaming van sy wetlike internasionale verpligtinge. Die Omar al-Basjir-aangeleentheid het ‘n duidelike sein aan die wêreld gestuur dat Suid-Afrika nie vertrou kan word soverre dit internasionale verdrae en selfs sy eie Grondwet en howe se opdragte aanbetref nie.

“President Barack Obama se nie-amptelike mondstuk, die New York Times, het gister ‘n berig geplaas met die opskrif : “South Africa is in an injudicious state”, dus, dat die oppergesag van die reg nie meer bestaan nie.

“Hoe het ons hier beland? Die ANC het bewys dat in die politieke wêreld ‘n snelle omgekeerde evolusie wel kan plaasvind. Hoe anders verklaar ‘n mens die transformasie van die beeld van die regering van ‘n bykans heilige Nelson Mandela in 1994 na ‘n zebra in 1999 met rassistiese wetgewing getrek in swart en wit lyne, en daarna tot ‘n hoender in 2015 waar die ANC te bang is om internasionale regsooreenkomste na te kom en uiteindelik ‘n ontluikende muishond in die wêreld se oë?

“Indien die ANC werklik hierdie land se ekonomie wil ontwikkel tot voordeel van almal, veral die armes, sal hy vinnig realiteit in die oë moet staar. Die wêreld, veral die handelswêreld wat saak maak, se vertroue word swaar verdien, en maklik verloor,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.