Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ruk munisipaliteite reg deur daadwerklik op te tree teen korrupte amptenare

Voortslepende wanpraktyke, onregmatige besteding van belastingbetalersgeld en die gebrek aan dienslewering wat die plaaslike munisipaliteite van Randwest (Randfontein, Westonaria), Mogale City (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift), Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging), Merafong (Carletonville, Fochville, Wedela) en die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waaronder die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Lesedi en Midvaal val, verlam kan nie langer geduld word nie. 

Die VF Plus het reeds in die verlede die LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, herhaaldelik gewaarsku om op te tree aangesien die munisipaliteite roekeloos en onreëlmatig optree.

Om munisipaliteite ingevolge Artikel 139 van die Grondwet onder administrasie te plaas, is nie die antwoord nie aangesien daar duidelike bewyse is dat dit nie effektief is nie. Administrateurs het in die meeste gevalle bygedra tot die verval van die munisipaliteite onder hul beheer.

Die VF Plus se standpunt is dat soos in die geval van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, moet daar daadwerklik teen amptenare en raadslede opgetree word wat hul skuldig maak aan die finansiële wanbestuur van munisipaliteite.

Onbevoegde amptenare moet vervang word met toegewyde en bevoegde munisipale amptenare. Regstellende aksie-aanstellings moet vervang word met aanstellings op meriete. Kaderontplooiing van een munisipaliteit na ‘n ander lei in baie gevalle, soos in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, na die plundering van belastingbetalersgeld.

Die kultuur van nie-betaling van dienste is nog ‘n faktor wat bydra tot die finansiële verknorsing waarin munisipaliteite hulself bevind en moet aangespreek word. Dit is onregverdig om betalers van dienstegelde, wat 'n gereelde en pligsgetroue belasting en dienstebetalings-kultuur ontwikkel het, oor te belas om die kultuur van nie-betalers te subsidieer. Indien almal getrou hul belastings en dienstegelde betaal, sal dit ‘n groot verskil maak aan munisipaliteite se geldkoffers.

Die VF Plus sal hom aanhou beywer vir skoon en verantwoordbare regering en sal ongerymdhede en korrupsie in munisipaliteite aan die groot klok hang om so te verseker dat getroue belastingbetalers die dienslewering ontvang wat hulle toekom.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.