Die rooi ligte flikker vir die voortbestaan van demokrasie na die ontwrigtende optrede van ANC-raadslede met die verkiesing van opgewentelde raadslede uit plaaslike munisipaliteite na distriksmunisipaliteite en ander ampsdraers soos hoofswepe.
Chaos het verlede week uitgebreek by munisipale raadsvergaderings van die Randwest-plaaslike munisipaliteit (Randfontein en Westonaria) en Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waaronder die plaaslike munisipaliteite van Efmuleni, Lesedi en Midvaal nadat ANC-raadslede glo ontevrede was met die stemproses vir die verkiesing van ampsdraers.
In die Randwest-munisipaliteit het ANC-raadslede geweier dat OVK-beamptes ‘n stemboks open om die stemme te tel wat kort tevore uitgebring is vir politieke party-verteenwoordiging op die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit.
Die plaaslike polisie moes ingryp in die woordewisseling tussen die OVK en die ANC nadat die ANC daarop aangedring het dat die stemproses weer moet plaasvind. Die OVK het besluit om die stemboks te seël en in veilige bewaring te plaas.
Met die raadsvergadering van die Sedibeng-distriksmunusipaliteit verlede Vrydag was die ANC-raadslede ontevrede nadat die VF Plus die amp van hoofsweep voor die ANC-kandidaat weggeraap het met 25 stemme teen 24. Die ANC wou nie die uitslag aanvaar nie en het die sitting ontwrig.
Die ANC-raadslede minag die kiesers van die munisipaliteite se keuse met hul optrede. Die kiesers het gepraat en die ANC moet nou luister.
Indien die ANC ‘n voorstaander is van die demokrasie, sal hy die uitslag van die verkiesing aanvaar en wat daaruit voortvloei soos die aanwys van opgewentelde opposisieparty-raadslede na distriksmunisipaliteite en as burgemeesters, speakers en hoofswepe.
Die fokus van munisipale rade moet nou wees op dienslewering aan inwoners en nie op kleinlike politiek nie.