Gedurende die jongste stadsraadvergadering in Johannesburg het die ANC ‘n verdere laekoste behuisingsprojek in Roodepoort-Noord deur die raad gestoomroller, sê rdl. Franco de Lange, VF Plus-raadslid in die Johannesburgse metroraad.
“In 2002 is daar ‘n stedelike ontwikkelingsgrens in die Ruimsig-omgewing geproklameer omdat daar nie voldoende infrastruktuur vir verdere ontwikkeling beskikbaar was nie. Die gedagte was om bestaande kompleks-ontwikkeling in die gebied van dienste te verseker.
“Die metroraad wil nou die stedelike ontwikkelingsgrens ophef om ‘n woonbuurt gelykstaande aan die omstrede Cosmo City in die gebied te ontwikkel. Drie laekoste behuisingontwikkeling-aansoeke word in die omgewing van Tres Jolie uitbreiding 21 en 25 beplan asook die ontwikkeling van Zandspruit Fase 2. Die aansoeke vir die oprigting van 7100 huise dien tans voor die raad.
“Die bestaande 80 000 informele huishoudings in Zandspruit gaan stelselmatig na die nuwe area verskuif word,” sê rdl. De Lange.
Hy sê voorts dat die VF Plus die aansoek teegestaan het as gevolg van die volgende redes:
Die nuwe ontwikkeling sal vanaf die gebied van Beyers Naudelaan, Konifeerstraat en Peterweg in die suide strek en verder uitbrei tot aan die grens van Ruimsig se Zonnehoewe en Tres Jolie-hoewegebied en twee kilometer van die Lazerpark-industriëlegebied in die ooste.
“Motoriste sal met die ontwikkeling gedwing word om die hoofroetes te volg en sal nie soos in die verlede deur woonbuurtes kan vleg nie. Dit is onregverdig van die regering om verdere druk op dié gebiede te plaas.
“Indien inwoners van informele nedersettings na formele behuising geskuif word, beweeg daar net weer mense in die informele nedersettings in – so die bevolkingsgroei in die gebied bars weereens uit sy nate.
“Daar is ook groot vraagtekens rondom biodiversiteit in die ontwikkelingsgebied. Tans is daar slegs twee persent ongerepte areas in die stad van Johannesburg oor.
“Die bruingemeenskappe van Eldoradopark wag al jare vir die ANC om aan hulle behuisingsbehoeftes te voldoen. Ontwikkeling vind net op die grense van die bruingemeenskap plaas.
“Hierdie is duidelik nog ‘n voorbeeld van hoe die ANC van die bruingemeenskappe vergeet het of is hierdie nou net weer ANC-beloftes om stemme te werf so kort voor die 2016-munisipale verkiesing,” het De Lange gesê.
Franco de Lange
082 358 3882