Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Rekord-hoë brandstofpryse: Dit kan verlaag as regering wil

Die verwagte verhoging in brandstofpryse van rondom R1,20 per liter, afhangende van die spesifieke kategorie, kan wel deur die regering hok geslaan word – mits die politieke wil bestaan.

Die brandstofprys in Suid-Afrika bestaan uit drie elemente: Die basiese brandstofprys (sowat 40%), verspreidingskoste (sowat 20%) en belastings (die ander 40%). Dit mag lyk of die regering net die belastingkomponent kan verander, maar in werklikheid word al drie elemente tot 'n mindere of meerdere mate deur die regering beïnvloed.

Die basiese brandstofprys is 'n hipotetiese prys wat bereken wat brandstof sou kos indien alle brandstof in voltooide vorm ingevoer sou word. Dit word byna uitsluitlik deur die Rand/Dollar-wisselkoers en die prys van ru-olie bepaal. Die werklike vervaardigingskoste van brandstof in Suid-Afrika het dus geen invloed op die prys nie.

Verspreidingskoste is by diesel gedereguleer, maar by petrol is daar vasgestelde winsgrense vir elke skakel in die ketting.

Hoewel die regering in 2008 in 'n witskrif die voorneme gestel het om die voorsieningsketting te dereguleer sodat dit die werklike, laer koste weerspieël, het die teenoorgestelde gebeur. Winsmarges is tans hoër as twintig jaar gelede. 'n Belangrike invloed op die versuim om te dereguleer, is uitgebreide belange wat deur swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gevestig is.

Een van die 2008-aanbevelings wat nooit in werking gestel is nie, is dat brandstofpryse, soos met elektrisiteit, deur Nersa vasgestel word. Dié onafhanklike reguleerder is minder onderhewig aan politieke druk as die departement van minerale hulpbronne en energie, wat tans die verantwoordelikheid dra.

Die belastingkomponent is volledig binne die beheer van die regering. Die Padongelukkefonds (Pof) wat gereeld om al die verkeerde redes in die nuus is, is een van die grootste begunstigdes.

Vir vuisvoos verbruikers, vir wie elke item in hul lewenskoste deur die brandstofprys beïnvloed word, is dit goeie nuus dat 'n meer werklikheidsgetroue berekening van die brandstofprys 'n verlaging van tot 90c per liter kan meebring.

Dis selfs beter nuus dat die minister van finansies in sy begroting die belastingkomponent van brandstof kan verlaag. Die slegte nuus is egter dat enige van dié stappe onwaarskynlik is.

Politieke druk van verbruikers is eenvoudig nie so sterk as die druk van belangegroepe wat uit hoë brandstofpryse voordeel trek nie. Die VF Plus poog steeds om hierdie onekonomiese stand van sake ten goede te verander.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.