Die regering se distriksontwikkelingsmodel is ná drie jaar en R103 miljoen ‘n blote hersenskim met geen tasbare vordering met die sogenaamde distriksontwikkelingsmodel (DDM) wat veronderstel is om munisipale dienslewering reg te ruk nie.
Dit blyk uit ‘n antwoord van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), me.Thembi Nkadimeng, in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus.
Die VF Plus het gevra vir spesifieke voorbeelde waar die DDM ‘n verbetering in finansiële bestuur, die onderhoud en opgradering van kritieke infrastruktuur en ‘n verbetering in dienslewering teweeg gebring het.
Die minister kon nie ‘n enkele voorbeeld noem nie. Sy het wel gemeld dat daar al R103 miljoen aan beplanning bestee is.
Minister Nkadimeng se erkenning volg nadat president Cyril Ramaphosa reeds in 2019 aanspraak gemaak het op suksesse in munisipale dienslewering weens die implementering van die DDM.
Daar is sedertdien ook gereeld in regeringsuitsprake melding gemaak van die model en sy gewaande suksesse.
Selfs openbare kommentators het intussen begin verwys na die DDM as ‘n bestaande, funksionele regeringsprogram.
Uit die minister se antwoord blyk dit duidelik dat die DDM bloot ‘n hersenskim is wat in die ANC-regering se verbeelding bestaan en as ‘n verkiesingsfoefie aangewend word.
Dit is ‘n skande dat R103 miljoen bestee is aan ‘n ANC-regeringsprojek wat skynbaar nie bestaan nie, terwyl miljoene Suid-Afrikaners moet ly onder die korrupsie en verval in ANC-beheerde munisipaliteite landswyd.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.