Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vandag in ‘n ledeverklaring in die parlement gesê die vlaag van plaasmoorde en -aanvalle, en veral die wreedheid wat daarmee gepaard gaan, maak dit toenemend ‘n saak van dringendheid vir die regering, en veral vir die minister van polisie, om drastiese stappe te neem om landelike beveiliging op te skerp en te verbeter.
Hier volg die res van die verklaring:
Volgens polisieverslae wat by die parlementêre portefeuljekomitee van polisie voorgelê is, is daar verskeie landelike polisiekantore (75) waar nie eers aan die minimum vereistes van sektorpolisiëring voldoen word nie.
Luidens statistiek van die TLU SA, was daar vandeesmaand al 23 aanvalle waarin ses mense dood is (4 net die afgelope naweek), en 277 aanvalle die afgelope jaar waarin 55 mense dood is.
Die vraag is of daar steeds prioriteit aan die plaasmoorde verleen word soos onderneem deur die vorige waarnemende nasionale kommissaris van polisie, lt.genl. Khomotso Phalahne, en indien nie, waarom nie?
Die feit dat voedselsekerheid ‘n prioriteit van die regering is en dat dit bedreig word deur die plaasaanvalle en -moorde, vereis dat spesialiseenhede plaasaanvalle en -moorde ondersoek.
Die VF Plus is tans in ‘n proses om by landbouorganisasies vas te stel wat hul finansiële- en ander behoeftes soos toerusting ter beveiliging van boere is, waarna die regering genader sal word om finansiële ondersteuning te gee aan hierdie organisasies se ondersteuningstelsels.
Indien die regering werklik ernstig is oor voedselsekerheid en die bekamping van plaasmoorde, sal hy hierdie behoeftes moet begin steun aangesien die polisie se landelike veiligheidsplan duidelik nie die mas opkom nie.
Die VF Plus maan politici, veral oor die grondkwessie, om hulle te weerhou van opruiende uitsprake wat gemoedere teen plaasboere kan beïnvloed.
Kontaknommers: 083 627 4397 /065 801 7216