fbpx
Vryheidsfront Plus

Regering maak bespotting van openbare deelname en skep chaos met uitnodiging om binne drie dae kommentaar te lewer op nuwe ramptoestand-regulasies

Die publikasie van voorgestelde nuwe Covid-19-rampregulasies met ‘n uitnodiging aan die publiek om teen Vrydag 1 April daarop kommentaar te lewer, maak eerstens ‘n bespotting van openbare deelname, en skep tweedens verwarring oor die regering se hantering van die Covid-19-pandemie.

Die aankondiging van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini Zuma, gee die publiek slegs drie dae om insette te lewer oor só ‘n belangrike saak wat reeds soveel ontwrigting veroorsaak het. Dit is belaglik en klink inderdaad na 'n Aprilgek-grap.

Hierdie jongste voorgestelde regulasies is in stryd met die regering se gestelde voorneme om die ramptoestand op te hef. Dit strook ook nie met vroeëre ondernemings deur minister Dlamini Zuma nie. Die departement van gesondheid is tans ook in ‘n proses van openbare deelname vir nuwe regulasies met ‘n sperdatum van 15 April.

Sulke teenstrydighede in regeringsbeleid skep onsekerheid en wantroue in die regering se motiewe.

Waarom hierdie haas met ‘n spertyd van drie dae ná die publikasie van die voorgestelde regulasies?

Waarom enigsins die publikasie hiervan as die regering by meer as een geleentheid aangekondig het dat die ramptoestand opgehef gaan word?

Dit is belangrik dat die minister kennis neem daarvan dat alle regulasies opgeskort word met die beëindiging van die ramptoestand.

Die Rampbestuurswet stel hierdie feit uitdruklik in artikel vyf van die wet.

Dit wil voorkom of elemente in die regering poog om met die uitreiking van nuwe regulasies dié wetgewing te omseil om steeds ongehoorde mag aan die regering te gee.

Dit sal neerkom op erge magsmisbruik en oneerlikheid teen die Suid-Afrikaanse bevolking.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas vir die volledige beëindiging van die ramptoestand en op alle maatreëls wat ‘n negatiewe impak op ekonomiese groei en burgers se grondwetlike regte het.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.