President Cyril Ramaphosa se ontkenning by die Bloomberg Global Bussiness Forum in New York van plaasmoord en grondgryp in Suid-Afrika is oneerlik en ‘n blatante leuen. Dit is ‘n jammerlike poging om die buiteland hieroor ‘n rat voor die oë te draai.
Die president is óf totaal waningelig óf hy is besig met ‘n blatante poging om die Verenigde Nasies (VN) én die wêreld onder ‘n vals indruk te bring, veral oor plaasmoord.
Die feit dat die polisie self die statistiek oor plaasmoord en -aanvalle bekend stel, asook vorige polisieverslae oor plaasaanvalle, erken die werklikheid van plaasmoord en -aanvalle en dit maak dit onverstaanbaar dat die president van die land in ‘n staat van ontkenning daaroor is en die boere sodoende in die steek laat.
Aan die een kant vertel hy hoe belangrik boere is, maar in die buiteland verraai hy hulle.
‘n Polisieverslag van 2003 oor plaasmoord het alreeds bevind dat die redes vir plaasmoord polities van aard is, dat dit oor die grondkwessie gaan, dat rassisme ‘n rol speel en dat gewone misdaad ook ‘n oorsaak is.
Indien die president werklik eerlik wil wees teenoor die wêreld, moes hy eerder gevra het dat internasionale hulp verleen word om te kyk hoe ‘n bydrae gemaak kan word om misdaad in Suid-Afrika te bekamp, en in besonder plaasmoord wat deels die oorsaak is van die gebrekkige landelike beveiligingstelsel en -strategie in Suid-Afrika.
Dit is ‘n algemene feit dat grondgrype op verskeie plekke in Suid-Afrika plaasvind, en dat slegs in enkele gevalle daar geslaagde optrede was om die grondgrypers te verwyder deur ‘n hofbevel. Daar vind baie meer onwettige grondbesettings (grondgrype) plaas as wat onwettige grondbesetters deur ‘n hofbevel verwyder word. Dit is die realiteit en werklikheid in Suid-Afrika.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sal die saak in die parlement opper en sal aandring op ‘n verduideliking van die president oor hierdie onware stellings.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216