Die publiek van Suid-Afrika het die volste reg om te weet hoe gehawend die geldsake van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is, en dit is betreurenswaardig dat die media nou verbied word om daaroor te berig,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Die SAL het nou ‘n dringende hofbevel in die Johannesburgse Hooggeregshof bekom wat Media24, Moneyweb en Business Day verhinder om oor ‘n geheime SAL-memorandum te berig weens die ‘werklike en ernstige skade’ wat dit aan die lugdiens en die ANC-regering se reputasie sal doen.
Adv. Alberts sê die hofbevel maak nie sin nie aangesien Moneyweb die verslag reeds op die internet geplaas het voordat die hofbevel uitgereik is. Alhoewel dit onttrek is, is dit reeds in die openbare domein en bevat dit inderdaad verdoemende feite oor die SAL.
“Boonop is daar geen geheim of skok wat in die verslag kan wees wat nie wel bekend is nie. Dit is ou nuus dat die SAL bankrot is en nie meer geld het om sy skuldeisers te betaal nie.
“Net so is dit wyd bekend dat hy reuse bedrae aan Boeing moet betaal en dat daar ook nie geld daarvoor is nie. ‘n Mens hoef nie versiende te wees om aan te neem dat die geldnood die basis van die verslag vorm nie.
“Die tyd het aangebreek dat daar ingrypende veranderinge by die lugdiens kom. Na die soveelste sogenaamde ‘omkeeraksie’ is dit duidelik dat elke poging van die onbeholpe staat die lugdiens bloot dieper in ‘n moeras van skuld en wanbestuur laat insak.
“Die Vryheidsfront Plus is van mening dat die lugdiens sonder verwyl geprivatiseer moet word om dit van ondergang te red,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403