Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Prys van omgewingskade vir Musina-Makhado-spesiale sone te groot

Die Musina-Makhado-spesiale ekonomiese sone (MMSES) is ‘n omstrede ontwikkelingsprojek in ‘n ekologies sensitiewe deel van die land en die VF Plus voeg sy stem by drukgroepe wat veral oor die vernietiging van beskermde bome bekommerd is.

Twee uiteenlopende sake maak die hele onderneming ingewikkeld: Afhanklikheid van Chinese finansiering vir die projek en wisselende aansprake oor hoeveel grond dit gaan beslaan.

Die MMSES self bestaan uit twee terreine; een nader aan Musina en die ander aan Louis Trichardt.

Saam beslaan dit sowat 11 500 hektaar. Daar is egter sprake dat natuurlike plantegroei op meer as 120 000 hektaar vernietig gaan word in die vestiging van steenkoolmyne en ander ontwikkelings buite die sone self.

Die sone word as ‘n logistieke spilpunt vir besighede wat oraloor Afrika sake doen, aangebied. Verder is die fokus op die verwerking van mangaan en ander metale, wat tans vanuit Limpopo en die Noord-Kaap na China uitgevoer word. Die hele projek is van Chinese maatskappye afhanklik wat in metaalverwerking belê.

Dit is vir hierdie energie-intensiewe bedryf wat nuwe steenkoolmyne nodig is – juis in ‘n tyd wat Suid-Afrika poog om van steenkool weg te beweeg.

Die verwydering van bedreigde bome soos Kremetart, Hardekool en Witgat, is ernstig. Die aantal bome wat vernietig sal word, wissel volgens die aantal hektaar wat ontwikkel sal word.

In hierdie droeër klimaat neem dit die natuur eerder eeue as dekades om van skade te herstel.

Hoewel die Limpopo-regering volstoom met die projek voortgaan, het die nasionale departement van bosbou, visserye en die omgewing nog nie finale toestemming gegee nie.

Die VF Plus wag juis op ‘n antwoord van dié minister, dr. Dion George, oor wat die omvang is van wat sy departement beoordeel.

Ontwikkeling is belangrik, maar die land en sy inwoners moet daarby baat vind, eerder as buitelandse ondernemers. Die onherstelbare vernietiging van die omgewing kan ook nie aanvaar word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.