Die VF Plus het in reaksie op die provinsiale rede van Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, gesê die ANC-gedomineerde regering van provinsiale eenheid (RPE) moet nou daadwerklik sorg vir ‘n beleggersvriendelike beleidsomgewing.
Dit moet gedoen word om die groeiende armoede onder alle mense in die provinsie te bekamp.
Die premier het heelwat aandag gegee aan ekonomiese ontwikkeling en het veral gefokus op die lok van nuwe beleggings na Gauteng.
Sonder groot nuwe beleggings sal die provinsie nie die nodige inspuiting ontvang wat kan verseker dat sterk ekonomiese groei en volhoubare werkskepping plaasvind nie. Die vereiste ekonomiese groeikoers is ten minste 6% wat net kan geskied met enorme beleggings.
Die VF Plus het vir jare die provinsiale regering versoek om oorsese beleggers na die provinsie te lok en dit lyk of die ANC uiteindelik begin luister. Dit is ook nie verbasend nie, aangesien die VF Plus onlangs in gesprek was met die premier om te bepaal hoe nuwe beleggings wat volhoubare werksgeleenthede kan skep, na Gauteng gekanaliseer kan word.
Die ANC, en veral die Gautengse provinsiale ANC onder leiding van Lesufi, is in groot moeilikheid by die kiesers. Die ANC het in verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesing slegs 34,76% steun ontvang en het vir die eerste keer in die geskiedenis onder 50% geval.
Daarby blyk dit dat die ANC steeds agteruit boer indien ‘n mens sy populariteit meet aan die negatiewe ontvangs en reaksie van die publiek tydens openbare vergaderings van die wetgewers se verskeie komitees.
Dit is veral opmerklik by die openbare vergaderings van die wetgewer se ekonomiese ontwikkelingskomitee waar die publiek wil weet hoe miljoene rande aan die ekonomiese ontwikkelingsdepartement se sakeprojekte bestee word terwyl niemand enige verbetering op grondvlak ervaar nie.
Die VF Plus se koukusleier in die Gautengse wetgewer, adv. Anton Alberts, is tans die voorsitter van die ekonomiese ontwikkelingskomitee.
Die effek van die ANC se treurige verkiesingsprestasie en die woede vanuit die gemeenskappe dwing Lesufi om nou ook na ander stemme van rede te luister en die VF Plus probeer om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Die VF Plus het reeds ‘n gesprek begin met die RPE om moontlike oorsese beleggers na Gauteng te lok. Die party het reeds gesprekke gefasiliteer tussen moontlike beleggers en die premier. Die premier het sy dank teenoor die party in dié verband uitgespreek tydens sy provinsiale rede.
Die internasionale omgewing is tans baie negatief teenoor die ANC op nasionale en provinsiale vlak . Daarom sal die ANC op dié vlakke ‘n drasties verbeterde beleidsomgewing moet skep wat die buiteland en veral Amerika sal moet gerus stel oor problematiese beleid soos onteiening sonder vergoeding, swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie.
In daardie verband gaan die VF Plus ook hierdie voorvereistes vir sinvolle beleggings in Gauteng aan die premier en sy kabinet oordra wat op hul beurt weer druk moet plaas op die nasionale regering om ernstige beleidsaanpassings te maak.
Sonder sinvolle hervormings sal die armoede onder wit, swart, bruin en Indiërs net al hoe meer groei.