Prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit van Stellenbosch, se voorstelle oor Engels by die universiteit is kortsigtig en uit voeling met die behoeftes van die Afrikaanssprekende mark in Suid-Afrika.
Afrikaans met 6,8 miljoen sprekers is die derde grootse taal in Suid-Afrika na Zoeloe (11,5 miljoen) en Xhosa (8,1 miljoen). Afrikaans is ook die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noordkaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap).
Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.
“Is dit te veel gevra om dan vir twee universiteitskampusse uit 36 te argumenteer wat oorwegend Afrikaans is?” het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, gevra.
“Met die Wes-Kaap se bevolking meer as 50% Afrikaanssprekend en bruin, behoort daar geen debat oor Afrikaans as onderrigtaal aan Stellenbosch te wees nie. Met twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap reeds Engels, het mense wat hieroor druk op die universiteit plaas, ’n deursigtige verengelsings agenda”, volgens dr Mulder.
“Open Stellenbosch” se verwysings na die Universiteit van Stellenbosch en Afrikaans, wat studente uitsluit, is niks anders as ’n verskuilde poging om die laaste paar universiteite waar Afrikaans nog as akademiese taal bestaan, te verengels nie. Die regering behoort hierdie universiteite ekstra staatshulp te gee ten einde meertaligheid te bevorder en te erken dat universiteite wat slegs Engels as voertaal het, daardeur baie studente uitsluit.
Artikel 29(2) van die grondwet bepaal: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.”
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670