fbpx
Vryheidsfront Plus

Probleme om Aarto te implementeer laat dit afstuur op mislukking

Probleme by die owerheid vir padverkeers-oortredings (RTIA) om behoorlik te funksioneer, laat dit duidelik blyk dat die liggaam, buiten ander faktore, hoegenaamd nie in staat sal wees vir ‘n massiewe bykomende werklas soos e-tol-boetes nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Luidens ‘n aanlynberig van Moneyweb het ‘miljoene’ rekeninge vir verkeersoortredings wat uitgestuur moes word, nou verval omdat RTIA agterstallig is met sy rekening by die poskantoor. Adv. Alberts sê 'n statutêre liggaam wat nie eens sy rekeninge vir posdienste kan betaal nie, is beswaarlik in staat om vertrou te word met beregtiging van verkeersoortredings.

RTIA is die liggaam wat verantwoordelik is vir die administrasie van die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto). Die wet geld tans net in Johannesburg en Pretoria, en die staat het planne om dit landwyd uit te brei.

Volgens adv. Alberts laat RTIA se onbeholpenheid dit nou reeds misluk, en dit is onmoontlik om in die lig hiervan te sien hoe dit ‘n landwye instelling gemaak sal kan word, of hoe dit boonop gebruik sal kan word om e-tol af te dwing.

“Vorige probleme was die versending van AARTO-kennisgewings per gewone pos terwyl geregistreerde pos deur die wet vereis word. Verder is daar die onderbemanning van RTIA wat hulle nie in staat stel om die duisende oortredings wat na die liggaam verwys word vir beregtiging, te hanteer nie.

“Aarto is duidelik ‘n gefaalde stelsel en daar bestaan tot vandag toe nog geen Aarto-howe nie. Dit beteken dat mense verhinder sal word om hul grondwetlike reg uit te oefen deur hulself in ‘n hof te verdedig.

“Voorts is Aarto ‘n gefaalde stelsel aangesien die toetsfases in Johannesburg en Pretoria geensins padveiligheid, wat die hoofdoelwit van Aarto is, verbeter het nie, maar eerder ‘n teelaarde vir korrupsie en magsvergrype geskep het,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.