(Debat in parlement oor staatsrede)
President Cyril Ramaphosa slaan nie werklik ag op die benarde situasie van plaaslike regering in Suid-Afrika nie. Terwyl die ouditeur-generaal (OG) jaarliks skokverslae indien oor die stand van munisipaliteite landwyd, het die president met sy onlangse staatsrede slegs vyf sinne hieraan gewy.
Die werklikheid is dat daar meer as 250 munisipaliteite in die land is wat dringend aandag benodig voordat tyd en geld op die president se denkbeeldige ‘superstede’ gemors word.
Die VF Plus sal aan die president ’n verhaal van drie stede vertel wat aan hom ’n goeie idee sal gee van wat werklik op plaaslike regeringsvlak gebeur.
Die eerste is Welkom in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit wat waarskynlik die land se kader-hoofstad sal wees indien staatskaping ten volle realiseer. Dié stad het volgens die OG vrugtelose uitgawes van R818 miljoen in net drie jaar gehad.
Matjhabeng skuld Sedibeng Water miljarde rande en die watervoorsiener is vir alle praktiese doeleindes bankrot. Die munisipaliteit is leeg gestroop en inwoners is die enigste verloorders.
Dan Bloemfontein. Die Rosestad wat danksy die ANC nie meer rose het nie, net dorings en dissels. Die metro-munisipaliteit van Mangaung is ‘n bespotting en die eerste metro-munisipaliteit onder administrasie.
Ook hier beloop waterskuld miljarde en die stad is gereeld sonder water. Inwoners betaal vir dienste wat nie gelewer word.
Die president kan in die vervalle en gestroopte Manguang gaan kyk hoe lyk die gevolge van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat hy so sterk voorstaan.
Die derde is Kgetlengrivier waar inwoners danksy ’n hofbevel nou tot ’n mate self dienslewering oorgeneem het. Dan sê die president werklik in sy staatsrede die regering “fokus” op die aanstelling van goed gekwalifiseerde amptenare in plaaslike regering.
Die munisipale bestuurder (Joseph Mogale) en al sy bestuurders is hier steeds in hul ampte. Is dit die president se idee van goed gekwalifiseerde amptenare en van verantwoording?
Hierdie is slegs drie voorbeelde van die ANC se vernietigende kaderontplooiingsbeleid. Deur alles loop die goue draad van die ANC, sy beleid van SEB en kaderontplooiing.
Plaaslike dienslewering moet meer in die beheer van plaaslike gemeenskappe gelaat word. Tog streef die ANC al hoe meer na sentralisering, selfs op distriksvlak.
Dit is ’n direkte poging om groter beheer oor plaaslike regering te kry, veral wat tenders en projekte aanbetref, en die gevolge is te skrikwekkend om selfs aan te dink.
Navrae: 072 382 3722