fbpx
Vryheidsfront Plus

President Ramaphosa se ANC verantwoordelik vir uittog

Die ANC se beleid van herverdeling in plaas van bou is die oorsaak van Suid-Afrika se probleme en die rede waarom baie jong witmense genoodsaak is om die land te verlaat.

Die VF Plus verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se hand van samewerking wat hy teenoor wit jeugdiges uitreik, maar is besorg oor die ander hand wat beleid implementeer wat nie tot voordeel van alle Suid-Afrikaners is nie.

Die president het Dinsdag tydens sy toespraak by boere en akademici in Stellenbosch nagelaat om te sê hoe die ANC-regering beplan om geleenthede vir almal te skep terwyl hy ras as maatstaf gebruik om te bemagtig.

Dit is juis pres. Ramaphosa en die ANC se verdelende retoriek oor grond en witmense wat gemarginaliseerde jong mense dwing om ander geleenthede in die buiteland te oorweeg.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat alle jong mense wil sien dat Suid-Afrika tot voordeel van almal groei. Diskriminerende wetgewing en beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), Regstellende Aksie (RA) en rassekwotas belemmer egter 'n toekoms van gelyke geleenthede vir almal.

Solank hierdie kunsmatige praktyke tot nadeel van ander voortduur, sal geleenthede in die buiteland die alternatief vir jong mense van minderhede bly.

Die president sê hy wil balans in Suid-Afrika sien, maar besef nie dat balans nie verkry kan word deur weg te neem en te herverdeel nie.

Balans word verkry deur iets te bied aan dié wat nie geleenthede het nie. Die kern-fokus van die regering behoort te wees om ‘n ekonomiese omgewing te skep waar geleenthede vir almal bestaan. Indien daar nie genoeg geleenthede vir almal is nie, moet nuwe geleenthede geskep word.

Tans forseer die ANC bloot die geleenthede-skaal tot kunsmatige gelykheid.

Die VF Plus slaan terug teen die ANC se beleid van kunsmatige gelykheid en bied daadwerklike oplossings vir Suid-Afrika se probleme. Die party het ‘n visie vir ‘n nuwe bedeling. 'n Bedeling waar daar eerder gebou as herverdeel en gediskrimineer word.

Kontaknommer: 082 490 6663

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.