Die VF Plus verwelkom die streng dissiplinêre stappe wat die munisipale raad van Polokwane geneem het teen amptenare wat by beweerde ongerymdhede betrokke was.
Die raad het vandeesweek tydens ʼn spesiale raadsvergadering besluit om die hoof finansiële beampte, mnr. Naazim Essa, en die waarnemende direkteur vir strategiese beplanning, monitering en evaluering, mev. Mapula Mamabola, te skors.
Hierdie optrede vorm deel van die dissiplinêre stappe hangende ’n ondersoek teen die persone.
Dié optrede kom nadat onafhanklike forensiese ouditeure, Bowman-Gilfillan, in opdrag van die munisipaliteit verskeie beweerde ongerymdhede by die munisipaliteit ondersoek het.
Ander senior amptenare is ook in die Bowman-Gilfillan-verslag uitgewys en aanbevelings is in dié verband gemaak.
Die verslag wys onder meer uit dat daar moontlik etlike “spookwerknemers” op die munisipaliteit se salarisrekening is.
Die party sal seker maak dat die vermoede behoorlik ondersoek word.
Slegs die raad mag intern ingevolge die Munisipale Stelselwet teen senior bestuurders (direkteure) en die munisipale bestuurder optree.
In terme van dieselfde wetgewing rapporteer alle ander amptenare aan die munisipale bestuurder wat by magte is om teen sodanige amptenare op te tree.
Die party sal die saak monitor om seker te maak dat die betrokke munisipale bestuurder, mev. Thuso Nemugumoni, korrek en vinnig optree en sal alle verdere dissiplinêre stappe met valkoë dophou.
Die party sal verder wil sien dat nóg ʼn ondersoek gedoen word rondom die oormatige oortydbetalings aan amptenare wat hy al by verskeie geleenthede uitgewys het.
Navrae: 082 453 0631