Inwoners van die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) wat ly onder die ANC-beheerde munisipaliteit se vrot dienslewering, gaan verder benadeel word weens die nasionale tesourie (NT) se voorgestelde staking van die uitbetaling van toekennings.
In ‘n brief aan die munisipale bestuurder, me. T Nemugumoni, word die munisipaliteit ingelig dat die NT beoog om ‘n gedeelte van Polokwane se 2022/23-toekennings te staak.
Dit is vanweë die munisipaliteit se onderprestering met die aanwending van toekennings.
‘n Bedrag van R97 miljoen van die munisipaliteit se oorspronklike toekenning van R426 miljoen aan die 2022/23-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) gaan wegval.
Die ander toekennings wat moontlik gaan wegval, is:
R14.8 miljoen van die R40 miljoen van die buurtontwikkelingsvennootskapstoelaag;
R47 miljoen van die R199.5 miljoen van die openbare vervoernetwerktoelaag
R23 miljoen van die R33 miljoen van die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram-toekenning;
R4 miljoen van die R5 miljoen van die energiedoeltreffendheid- en vraagkantbestuur-toekenning;
R77.3 miljoen van die R154,6 miljoen van die streekgrootmaat-infrastruktuurtoekenning;
R20 miljoen van die R77,2 miljoen van die waterdienste-infrastruktuurtoekenning.
Dit is skandalig dat die bedrae gestaak kan word weens die ANC-beheerde munisipaliteit se onvermoë om die fondse aan te wend en dit terwyl Polokwane verval.
Inwoners sukkel daagliks met dienslewering, vervalle krag- en waterinfrastruktuur en paaie wat meer slaggate as teer het, maar die munisipaliteit sit op sy hande.
Die VF Plus gaan die munisipale bestuurder vra of die munisipaliteit wel op die brief van die NT gereageer het en watter motivering aangebied is om die onthouding van die fondse te voorkom.
Die party koester egter nie hoop dat die munisipaliteit daarin sal slaag om dié toekennings voor die einde van die finansiële jaar op 30 Junie te bestee nie.
Dit gaan negatief inwerk op die volgende finansiële jaar se toekennings.
Onder die ANC het Polokwane van ‘n vooruitstrewende dorp letterlik en figuurlik verval tot ‘n vullishoop.
Polokwane verdien beter as die ANC.