Die Polokwane-plaaslike munisipaliteit het ná druk van die VF Plus begin optree teen staatsdepartemente wat nie hul munisipale diensterekeninge vereffen nie.
Stappe word tans geneem om munisipale dienste aan die betrokke staatsdepartement te staak.
Dit volg nadat daar geen reaksie van die kant van die staatsdepartemente was op kennisgewings van die munisipaliteit om uitstaande skuld te vereffen nie.
Teen die einde van Januarie 2023 het staatsdepartemente se skuld sowat R271 miljoen beloop.
Die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) bepaal dat wanneer 'n dispuut van 'n finansiële aard tussen staatsorgane ontstaan, moet die betrokke partye so spoedig moontlik alle redelike stappe neem wat nodig mag wees om die saak buite die hof op te los.
Die staatsdepartemente se blatante verontagsaming van die MFMA is onaanvaarbaar.
Net soos wat daar opgetree word teen inwoners en van hulle verwag word om hul rekeninge te vereffen, kan daar selfs sterker opgetree word teen regeringsdepartemente wat miljoene skuld.
Hierdie wanbetaling hou ‘n wesenlike bedreiging in vir die volhoubaarheid vir dié munisipaliteit.
Staatsdepartemente moet juis ‘n voorbeeld stel aan alle verbruikers van munisipale dienste deur hul rekeninge tydig en volledig te vereffen.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas en toesien dat hieraan aandag gegee word.
Polokwane verdien beter as die ANC.