Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Politieke leierskap van Mangaung-metro moet verantwoordelik gehou word vir metro se mislukkings

Dienslewering en goeie munisipale bestuur het die afgelope jare in die Mangaung-metro-munisipaliteit drasties verswak en die metro is eenvoudig nie daartoe in staat om dienste te lewer, finansiële dissipline toe te pas en daardeur ekonomiese groei te verseker nie.

Klagte ten aansien van probleme neem weke om opgelos te word en die munisipale inbelsentrum is vir alle praktiese doeleindes buite werking. Die metro laat toe dat riool sowel as skoon water vryelik in strate afloop. 

Inwoners word verder geteister deur enorme hoeveelhede slaggate, straat- en verkeersligte wat nie werk nie, afwesigheid van padtekens en straatname asook probleme rakende munisipale rekeninge. Bykomend hiertoe oorskry die metro se laste sy bates en kom hy ook nie sy verpligtinge na nie. 

Daar bestaan geen twyfel nie dat die ANC die oorsaak van die probleem in die metro is en daarom moet onbevoegde amptenary sowel as amptenare verantwoordelik vir swak bestuur, aanspreeklik gehou word. 

Die VF Plus is van mening dat nie slegs amptenare aanspreeklik gehou moet word nie. Die politieke leierskap in die metro moet ook boet aangesien hierdie probleme onder hul toesig plaasvind.

Die ANC-beheerde metro se burgemeester en burgemeesterskomitee is nie daartoe in staat om sy oorsigrol te vervul of politieke leiding aan amptenare te gee nie en misluk ook om hierdie amptenare tot verantwoording te roep. 

Die VF Plus beskou die veldtog teen die stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, as 'n poging om die simptome van die ANC-siekte in die metro toe te smeer.

Die VF Plus eis dat huidige en vorige ANC-politici verantwoordelik gehou word vir die toestand waarin die metro hom bevind en eis dat die burgemeester, Olly Mlamleli, die eerbare weg sal volg en bedank – of sy sal verwyder word.

Navrae: 082 305 1540

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.