Die VF Plus is geskok na die gru-moord op ‘n bejaarde egpaar van Florida, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-leier in Gauteng.
Die tyd is ryp om ‘n koalisie-regering in Johannesburg te vorm en so die stad van totale ondergang te red. Die polisiediens se onvermoë om misdaad te beheer is suiwer die skuld van besluitmakers wat nie die land of ‘n stad na behore kan bestuur nie.
“Wanneer die VF Plus deel is van die koalisie-regering is dit belangrik om die metropolisie te bemagtig sodat hulle aktief betrokke is in misdaadbekamping. Die metropolisie kan nie langer beperk word om net boetekaartjies aan landsburgers uit te skryf nie. Dié manne en vroue moet baie meer effektief gebruik word,” meen adv. Alberts.
Hy het verwys na ‘n egpaar in hul 70 wat gister dood in hul motorhuis deur ‘n huiswerker aangetref is. Beide se hande en voete is met draad vasgebind en daar was sigaretbrandmerke aan hul liggame. Die vrou het ‘n plastieksak oor haar kop gehad.
Die VF Plus het ook sy medelye aan die familie van die egpaar (wie se name op die stadium onbekend is) uitgespreek en is erg geskok oor die brutaliteit van die moord.
“Hul moordenaars hoort agter tralies en ons doen ‘n beroep op die polisie om nie te rus alvorens die saak nie opgelos is nie,” aldus adv. Alberts.
082 391 3117