Die grusame realiteit van plaasmoord is nou lank genoeg ontken en misken in die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap en deur die ANC- regering en die tyd het lankal aangebreek dat president Cyril Ramaphosa dit erken en daadwerklik optree.
In die jongste voorval van ‘n vlaag aanvalle en moorde wat in die laaste weke in felheid toegeneem het, is ‘n Indiërboer se swanger 26-jarige vrou en ma van twee jong kinders van Weenen in KwaZulu-Natal tydens ‘n aanval dood nadat haar keel afgesny is.
Dit blyk dat haar man in ‘n hewige geveg met die aanvallers betrokke geraak het om sy gesin te beskerm nadat die aanvallers ook probeer het om die seun van agt te verwurg. Die man en die dogtertjie van vier is ongedeerd.
Die leier van die VF Plus (dr. Pieter Groenewald) sal ‘n skrywe hieroor en oor die voorkoms van plaasaanvalle aan pres. Ramaphosa rig met die boodskap dat sy indruk dat dit net wit boere is wat vermoor word, verkeerd is.
Alle boere in Suid-Afrika word geteiken en vermoor. Dit is ‘n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid en pres. Ramaphosa kan nie langer versuim om op te tree nie.
Die VF Plus wil sy boodskap herhaal dat die landbougemeenskap paraat en voorbereid moet wees om, binne die wet, vuur met vuur te beantwoord.
Die sinnelose slagting van die landbougemeenskap soos in hierdie geval, waar ‘n jong vrou op grusame wyse soos ‘n dier keelaf gesny is en die aanvallers daarna gevlug het sonder om iets te roof, kan bloot nie voortgaan nie.
Die aantal aanvalle en die buitengewone brutaliteit daarvan, dien as genoegsame bewys dat hierdie nie net gewone misdaad is nie, maar georganiseerde misdaad wat prioriteit aandag verg.
Dit is tans duidelik dat boere nie op die regering kan staatmaak vir beskerming nie. Plaasaanvalle gaan verder toeneem en die landbougemeenskap moet paraat en voorbereid wees om, binne die wet, vuur met vuur te beantwoord.
Elke persoon in die land het die grondwetlike reg om hom- of haarself te verdedig wanneer hul veiligheid en lewe bedreig word.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216