fbpx
Vryheidsfront Plus

OVK het wet oortree deur BLF te registreer as politieke party: VF Plus vra Kieshof om in te gryp

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) is nie bereid om te erken hy het gefouteer deur die BLF toe te laat om as politieke party te registreer nie en die VF Plus gaan daarom die Kieshof vra om die OVK te beveel om dié fout reg te stel.

Die kommissie het die appèl van die VF Plus teen die hoofverkiesingsbeampte se besluit om die BLF te registreer, afgewys.

Die VF Plus meen die merendeel probleme van Suid-Afrika ontstaan weens die minagting van wetgewing. Dit is daarom vir die party belangrik om hierdie saak voort te sit aangesien die OVK nie toegelaat kan word om die wet te oortree nie. Dit bedreig Suid-Afrika se demokrasie en die handhawing van wet en orde.

Volgens die VF Plus is die meriete van die saak sterk aangesien die Wet op die Verkiesingskommissie die hoofverkiesingsbeampte verbied om 'n politieke party te registreer wat lidmaatskap uitsluit op grond van ras, etnisiteit of velkleur.

Die BLF se grondwet spel dit duidelik uit dat slegs swart mense by die party mag aansluit en dié party hits ook geweld aan.

Die grondwet van die BLF skep die teelaarde vir rassisme en haatspraak, soos bewys deur die BLF se woordvoerder, Lindsay Maasdorp, wat na die tragiese dood van leerders by Hoërskool Driehoek die sterftes verwelkom het aangesien hulle wit was.

Ingevolge Artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie (Wet 51 van 1996) mag die OVK nie 'n politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal in artikel 4 dat slegs swartmense lede van dié party mag wees.

Suid-Afrika se Grondwet stel dit in Artikel 1 duidelik dat die Suid-Afrikaanse staat gegrond is op vier kernwaardes, waarvan nie-rassigheid een is. Dit is dus duidelik dat die OVK 'n groot fout begaan het. Die VF Plus vra die hof om hierdie fout reg te stel.

Die VF Plus sal nie opgee in die stryd teen die BLF se rassisme en rassepolarisasie nie. Die OVK se minagting van Suid-Afrika se Grondwet en die wetgewing wat verkiesings rig mag nie geduld word nie.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.