fbpx
Vryheidsfront Plus

Ouditeur-generaal se verslag skets benarde beeld van Noordwes-munisipaliteite se finansiële stand

Die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor die finansiële stand van munisipaliteite, beklemtoon onder meer die omvang van die agteruitgang en verval van munisipaliteite in Noordwes.

Die provinsie het die twyfelagtige onderskeiding behaal dat 9 uit 22 van die land se swaks-bestuurde munisipaliteite in Noordwes geleë is. Byna die helfte.

Noordwes word in die verslag ook uitgesonder as ‘n provinsie wat “ly onder ‘n onstabiele leierskap, ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid, ‘n algemene stand van wanorde, en min tot geen munisipale dienslewering”. Dit is skandelik.

Die verslag meld ook dat substantiewe finansiële onreëlmatighede by hierdie munisipaliteite geïdentifiseer is.

Munisipaliteite wat van die groter ekonomiese sentra in die provinsie soos Lichtenburg, Vryburg en Brits bedien, word hierby ingesluit.

Die wanbestuur en gebrekkige dienslewering smoor letterlik die plaaslike ekonomieë en werk disinvestering en werkloosheid in die hand.

Die redes hiervoor wat in die verslag se bevindings aangedui word, is uiteenlopend.

Dit sluit in swak tot geen finansiële rekordhouding, ‘n gebrek aan kundige personeel, geen doeltreffende skuldinvorderingstelsels, wanbesteding en korrupsie, sowel as ‘n gebrek aan sterk etiese politieke leierskap.

Die VF Plus het reeds by herhaling op provinsiale, sowel as nasionale-regeringsvlak, uitgewys dat die situasie nie omgekeer sal word in die afwesigheid van gevorderde tegnologiese finansiële stelsels en bekwame personeel nie.

Digitale deurlopende finansiële assesseringstelsels sal finansiële onreëlmatighede beperk en behoorlike rekordhouding en akkurate oudits verseker.

Noordwes se inwoners ly reeds lank onder ‘n wanfunksionele ANC-regering en sy kaders op plaaslike vlak wat net hul eie belange op die hart dra.

Gemeenskappe regoor die provinsie moet saamstaan en hul plaaslike politieke leiers tot verantwoording roep.

Die inwoners van Noordwes verdien beter as die ANC.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.