‘n Aankondiging in die staatskoerant vroeër vandeesweek dat twee trajekte van sowat sewentig kilometer elk nasionale paaie gaan word, is waarskynlik deur herhaalde vertoë weens oorlaaide vragmotors op die roete veroorsaak.
Aangesien nasionale paaie in die algemeen beter as provinsiale paaie in stand gehou word, verwelkom die VF Plus die aankondiging.
Die een trajek wat ter sprake is, is die R369 vanaf die aansluiting met die N12 by Hopetown, oor Orania tot by die aansluiting van die R48 na Koffiefontein en uiteindelik Bloemfontein.
Die ander is die R389 van die aansluiting met die N1 by Hanover tot by R48 by Philipstown. Dit is deel van die berugte ertsroete, waar die swak padoppervlak reeds tot verskeie sterftes gelei het.
In hierdie stadium is dit nog onbekend wat van die trajek tussen die twee nuwe nasionale paaie gaan word, dit wil sê oor Petrusville tot by Philipstown. Daardie deel van die roete is in dieselfde swak toestand as die nuwe nasionale paaie.
‘n Geweldige toename in mynbou rondom Postmasburg, Kathu en Kuruman lei die afgelope jare tot toenemende vragverkeer na hawens in die Nelson Mandelabaai-metro.
Vanaf Kimberley is daar nasionale paaie oor Bloemfontein, Colesberg en Cradock, of oor Hopetown, Britstown, De Aar, Hanover en Cradock na Port Elizabeth.
Vragmotors verkies egter soms om by Hopetown af te draai en oor Orania, Petrusville en Philipstown by die nasionale pad op Hanover aan te sluit. Dit is ‘n roete wat nie vir sulke swaar verkeer bedoel is nie.
Die verslegtende toestand van die pad en herhaalde lewensverlies is deur die VF Plus aangemeld, onder meer in die parlement.
Gemeenskapsorganisasies al langs die roete, sowel as munisipale owerhede soos Orania het herhaaldelik met die provinsiale owerheid in die verband geskakel. Beter wetstoepassing en meer gereelde padonderhoud is telkemaal versoek.
Tans is dit nog onduidelik wat die nuwe status in die praktyk gaan beteken. Tog skep dit hoop dat die paaie binnekort sal verbeter en dat die oorblywende gedeelte ook by die projek ingesluit sal word. Verder kan dit toerisme en landbou langs die Oranjerivier makliker laat werk.
—–
Die rooi streep dui die roete aan wat ertsvragmotors dikwels van die N12 by Hopetown tot by die N1 en dan die N10 by Hanover volg. Die pers strepe dui die deel van die roete aan wat tot nasionale paaie verklaar is.