Die VF Plus is bekommerd oor die feit dat verskeie openbare skole in Mpumalanga nie hul toelaag van die departement van onderwys ontvang het nie.
Ten spyte daarvan dat meer leerders aan sekere skole toegewys is, het die broodnodige beloofde ekstra klaskamers en ander noodsaaklike infrastruktuur ook tot dusver nie gerealiseer nie.
Die VF Plus het Dinsdag 'n mosie by die provinsiale wetgewer ingedien wat vra dat die kwessie dringend gefinaliseer word.
Die meeste openbare skole in die provinsie is tans aangewese op borge binne hul eie geledere. Dit is onaanvaarbaar dat goedhartige burgers die rekening vir onder meer vervalle infrastruktuur moet vereffen terwyl daar op staatsfondse gewag word.
Onderwys- en ondersteuningspersoneel, wat nodig is vir die behoorlike funksionering van skole, moet gereeld teen minimale betaling in heeltydse poste werk sonder om 'n vaste departementele aanstelling te kry.
Hoe 'n samelewing sy kinders en jeug behandel, is 'n weerspieëling van sy moraliteit.
Skole is sosiale instellings wat met die versorging en opvoeding van kinders en jeugdiges toevertrou word. Hierdie swak behandeling van onderwysers en personeel bring dit in die gedrang en voorspel niks goed vir die toekoms nie.
Die VF Plus sal druk toepas totdat die kwelpunt van toelae opgelos is.