Die oorvol vullisterreine van die Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) wat noodgedwonge steeds gebruik word, kan op ‘n ramp afstuur terwyl daar gewag word op ‘n nuwe terrein wat eers oor twee jaar in gebruik geneem kan word.
Die VF Plus het gedurende ‘n onlangse oorsigbesoek aan Emfuleni se vullisterreine en vlootwerwe verstom gestaan oor die algemene agteruitgang van munisipale eiendom.
By die oorvol Boishepi-vullisterrein is ‘n groot gedeelte van die betonheining weg, die weegbrug het geen staalreling nie en die sekuriteitskantoor is besaai met vullis.
Die Waldrift-vullisterrein is reeds gesluit terwyl die klein Sonlandpark-terrein eersdaags sy maksimum kapasiteit gaan bereik en daar geen water- of elektrisiteitsvoorsiening aan die Palm Springs-terrein is nie.
Die Waldrift-terrein is reeds gesluit.
Die bestaande vullisterreine word oorval van mense op soek na herwinningsmateriaal en dit skep ‘n gesondheidsgevaar vir inwoners van omliggende informele nedersettings.
Inwoners maak hul ook skuldig aan onwettige vullisstorting omdat die stortingsterreine gevaarlik is.
By die Boipatong-vlootwerf waar munisipale vragmotors geberg word, staan ‘n groot hoeveelheid voertuie sonder buitebande op houtblokke, nuwe voertuie wat vanaf die Gautengse provinsiale regering ontvang is, staan in onbruik omdat die geskikte laaibakke nie voorsien is nie, 80% van die waterkrane is buite werking, brandblussers is ongediens en bome groei deur die dak.
Dieselfde situasie is by die Duncanville-vlootwerf aangetref waar min van die voertuie en eiendom onderhou word.
Slegs twee van die vullisverwyderingstrokke wat die hele Emfuleni bedien, is in ‘n werkende toestand.
Emfuleni pluk nou die vrugte van jarelange wanbestuur en geen politieke wil om die munisipaliteit suksesvol te bestuur nie.
Die VF Plus het die administrateur, Gilberto Martins, versoek om ‘n verslag saam te stel oor die vullisterreine en wat die munisipaliteit gaan doen om die voertuie by die Boipatong-vloot weer in werking te stel.