Die VF Plus neem kennis van die aansienlike toename in onwettige grondbesettings in Suid-Afrika wat onvermydelik sal lei tot wrywing en konflik tussen grondeienaars en die grondbesetters. In sommige gevalle is boere besig om in massas op te trek op grondbesettings te voorkom en dit het groot potensiaal vir konflik.
Die VF Plus doen in dié verband ‘n beroep op die regering om daadwerklik op te tree en om eerstens te sorg dat daar genoeg grond beskikbaar gestel word vir behuising.
President Cyril Ramaphosa is op rekord dat hy gesê het waar dit gaan oor grondonteiening sonder vergoeding, sal onwettige grondbesetting nie geduld word nie. Hy het onder meer in Maart 2018 met die onwettige Olievenhoutbosch- grondbesettings tussen Johannesburg en Pretoria gesê:
“Ons (die regering) sal nie wanorde en wetteloosheid duld nie. Niemand het die reg om grond te beset en ander mense se regte te skend nie. Almal wat grond wil beset, moet weet ons sal dit nie toelaat nie.” (EWN: 11 Maart 2018)
Die VF Plus verkwalik die regering en politieke leiers wat onwettige grondbesettings aanhits deur opruiende politieke uitsprake met die deurlopende retoriek dat wittes die grond gesteel het. Hierdie mense is aandadig aan die konfliksituasie wat geskep word met die onwettige grondbesettings.
Die VF Plus doen ‘n beroep op president Ramaphosa om die grondbesettings in die openbaar te veroordeel en om stappe te neem om toe te sien dat die besettings gestaak word. Die president moet ook aandui presies wat hy gaan doen om te verseker dat onwettige grondbesettings nie plaasvind nie.
Die onwettige grondbesetters betree nie net onwettig privaat-eiendom nie, maar oortree ook die inperkingsregulasies wat dit baie duidelik maak dat daar nie onwettige grondbesettings mag plaasvind nie.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216