’n Ondersoek deur die VF Plus het nou aan die lig gebring dat daar in ‘n parlementêre antwoord oor die ondersoek na Eskom se probleme, vals inligting aan die VF Plus gegee is oor Dentons, die regsfirma wat die kontrak vir R22 miljoen gekry het om die ondersoek oor drie maande te doen.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie, sê hy het reeds sy bedenkinge uitgespreek oor die feit dat die ondersoek, wat onderliggend toepaslike tegniese en ingenieurskennis asook finansiële vaardighede sal benodig, deur ‘n prokureursfirma gedoen gaan word.
In ‘n een van verskeie vrae oor die ondersoek wat adv. Alberts op 20 Maart vanjaar aan die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown gevra het, en waarin hy hoofsaaklik die onpartydigheid van die ondersoek probeer bepaal het, het die minister ontken dat die firma enige verbintenis met Eskom het.
Op Dentons se webwerf spog hy self egter openlik oor die werk wat voorheen vir Eskom gedoen is.
Die vraag van adv. Alberts lui: “Watter stappe is geneem om seker te maak die ondersoek is onafhanklik en onpartydig?”
Die antwoord lui: “Die prokureurs het voorheen nie enige werk vir Eskom gedoen nie, en hy het nie ‘n vorige, bestaande verhouding met Eskom nie”.
Adv. Alberts sê dit is duidelik dat die aangeleentheid hoogs onreëlmatig is.
“Hierdie is nie ‘n gewone opdrag wat Dentons van Eskom gekry het nie. Hy word hier gevra om ‘n indringende ondersoek te doen met die moontlikheid dat hoë koppe in die proses kan rol.
“Nou blyk dit dat van dié ‘hoë koppe’, voorheen moontlik werk aan Dentons toegeken het, en moontlik ook toegesien het dat die werk nou weer aan die firma toegeken word. Om alles te kroon, gaan Eskom self toesig hou oor die peperduur ondersoekproses.
“Dit is duidelik dat hier ‘n onbehoorlike verhouding tussen Eskom en Dentons bestaan in terme van die ondersoek. Die VF Plus sal alles moontlik doen om toe te sien dat die ondersoek deur ‘n onpartydige liggaam soos die Openbare Beskermer gedoen word, wat ons die hele tyd nog voorstel.
“Die VF Plus het die minister in ‘n opvolgvraag versoek om die ongerymdhede te verduidelik. Ons is van mening dat dit bloot ‘n baie duur toesmeerpoging is om die publiek te mislei,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403