Die VF Plus verwelkom die bekendmaking van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes, maar beskou dit as onaanvaarvaar dat pres. Cyril Ramaphosa so lank daarmee gesloer het en sal wil weet wat die doel daarvan was om dit sedert vroeg Junie op sy tafel te hou.
Die VF Plus het die afgelope maande by herhaling in die Nasionale Vergadering en die portefeuljekomitee vir gesondheid pogings aangewend en druk op die president geplaas om die verslag bekend te maak.
Dit was van die begin duidelik vir die VF Plus dat meer mense by die Digital Vibes-bedrogspul betrokke was as wat aanvanklik vermoed is en van daardie mense sit na maande steeds met volle vergoeding in hul poste.
Een van hulle is die toekenner van die kontrak, dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal van die departement van gesondheid. Hy het met die toekenning van die kontrak as waarnemende direkteur-generaal van die departement opgetree.
Die SOE-verslag beveel aan dat hy strafregtelik aangekla word vir finansiële wanbestuur. Die totale verkrygingsproses was volgens die verslag onwettig en tussen R72 en R80 miljoen is verkwis.
Al wat met so ‘n lang gesloerdery gebeur, is dat betrokkenes die geleentheid gegun word om spore agter hulle dood te vee.
Sedert president Ramaphosa die verslag van die SOE ontvang het, was daar klaarblyklik geen nuwe verwikkelinge nie wat dit des te meer onverstaanbaar maak waarom hy byna vier maande daaraan vasgehou het.
Die skandaal is nogtans nou oopgevlek en daar moet sonder meer opgetree word teen persone wat genoem word. Die optrede moet daadwerklik en strafregtelik wees. Mense moet tronk toe gaan. Insluitende die vorige minister van gesondheid, Zweli Mkhize.
Die publiek is voos vir korrupsie en bedrog en die oënskynlike straffeloosheid daarvan.
Die VF Plus sal die ondersoek fyn dophou en sal dit nie aanvaar as mense wegkom deur hulle net te verplaas of te herontplooi na ander afdelings of departemente soos die ANC gewoonlik doen nie.