Die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, se pas uitgereikte verslag oor die stand van munisipaliteite in die land, belig opnuut die erns en omvang van die verval en grootskaalse wanbestuur in ANC-beheerde munisipaliteite.
Die verslag vir die 2020/21-finansiële jaar wys onder meer uit dat onreëlmatige besteding by 64% van die munisipaliteite ten bedrae van R20,45 miljard geïdentifiseer is en dat 28% van munisipaliteite in die afsienbare toekoms nie meer regtens as lopende sake beskou sal kan word nie.
Slegs 16% van die munisipaliteite het ongekwalifiseerde oudits ontvang en by 22 munisipaliteite is bevind dat daar substantiewe onreëlmatighede plaasgevind het.
Die feit dat 64% van munisipale skuld as oninvorderbaar beskou word, beklemtoon ook die vlakke van onbekwaamheid in munisipale besture landwyd.
Geen behoorlike kontrole- en invorderingstelsels is in plek nie en dit is ook duidelik dat die politieke wil ontbreek om wanbetalers van munisipale dienste vas te vat.
Dit blyk ook duidelik dat die dringende implementering van behoorlike bestaande tegnologie en bestuurstelsels die hoogste prioriteit behoort te geniet.
Digitale deurlopende finansiële assesseringstelsels sal finansiële onreëlmatighede beperk en behoorlike rekordhouding en akkurate oudits verseker.
Dit is tyd dat die ANC-regering ophou beloftes en uitsprake maak oor die tegnologiese rewolusie en die stelsels begin implementeer. ‘n Verdere voetslepery sal belastingbetalers nóg miljarde rande aan verspilde belastinggeld kos.
Die verslag bevestig ook die negatiewe impak wat die voortslepende ANC-binnegevegte en gevolglike onstabiliteit op munisipale dienslewering het.
Veral die inwoners van die Vrystaat en Noordwes ly reeds lank onder die gevolge van die ANC se binnegevegte.
Die OG beklemtoon ook dat ‘n gebrek aan etiese politieke leierskap lei tot ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid en ‘n algemene toestand van wanorde in sommige provinsies.
Gemeenskappe in alle munisipaliteite behoort saam te staan en die plaaslike politieke leiers in munisipaliteite tot verantwoording roep vir hierdie wanbestuur van hul skaars hulpbronne.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.