Die skokkende wyse waarop ANC-beheerde stadsrade en munisipaliteite belastinggeld mors en tenderprosedures openlik verbreek moet gestuit word en die VF Plus het die Openbare Beskermer (OB) gevra om die skenking van ‘n R6 miljoen-standeeld van wyle pres. Nelson Mandela aan die Palestyne te ondersoek.
Adv. Anton Anton Alberts, LP en leier van die VF Plus in Gauteng en mnr. Franco de Lange, VF Plus-raadslid vir Johannesburg, sê dit is onaanvaarbaar dat die Johannesburgse stadsraad, wat onlangs geld moes leen om diensleweringskoste te dek, R6 miljoen betaal het om ’n standbeeld te laat maak wat aan die Palestynse stad Ramallah geskenk is.
Die OB gaan in besonder gevra word om ondersoek in te stel of Johannesburg sy eie tenderregulasies verbreek het met die aanstelling van Dali Tambo se maatskappy Koketso Growth om die projek te bestuur.
Die spandabelrige vermorsing is selfs verder gevoer deurdat ‘n afvaardiging van die stadsraad onder leiding van die burgemeester, Parks Tau, Dinsdag die bronsbeeld onthul het.
Die OB moet ook hier ondersoek of daar wel toestemming was vir die afvaardiging om die reis te onderneem, hoeveel mense deel van die afvaardiging was en hoeveel dit die belastingbetaler gekos het, sê adv. Alberts en mnr. De Lange.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 082 358 3882