Die VF Plus verwelkom die positiewe uitsprake van die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en dat studente van ander tale benadeel word omdat hulle met Engels sukkel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor hoër onderwys.
Terselfdertyd is daar groot ontevredenheid in die Wes-Kaap onder studente van die Elsenburg-landboukollege oor ‘n opdrag van die DA-regering dat onderrig by die kollege net in Engels sal geskied tot ‘n oplossing gevind word vir die protes van ‘n handjievol swart studente teen Afrikaanse onderrig.
Mnr. Darryn Jacobs, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van landbou-ontwikkeling en ondersteuningsdienste van die Wes-Kaapse DA-regering, het in ‘n skrywe opdrag gegee dat onderrig net in Engels sal plaasvind totdat ‘n oplossing vir die swart studente se griewe gevind is.
Adv. Alberts sê dit is bekend dat die VF Plus die kwessie van moedertaalonderrig al jare lank dryf, en vir jare hieroor met die regering en Nzimande gestoei het.
“Die minister het verlede maand nog in antwoord op parlementêre vrae van myself oor die aangeleentheid aangevoer dat Engels die voorkeurtaal in onderwys sal bly.
“Hy het toe oor die kwessie gesê: ‘Engels is ‘n internasionale taal wat gebruik word in hoër onderwys regoor die wêreld. Dit is prakties die aangewese hooftaal om te gebruik in Suid-Afrikaanse instellings vir onderrrig en studies’.
“Hierdie week het hy luidens ‘n Netwerk24-berig gesê studente moet in hul moedertaal onderrig word omdat hulle dikwels in Engels sukkel.
“Die VF Plus glo dat die minister en die regering daadwerklik besef het dit het ‘n groot rol gespeel in die swak vertoning van Suid-Afrika se onderwys-prestasie op alle vlakke oor die laaste jare, en ons verwelkom dit.
“Daarom is dit jammer dat die DA juis nou diskrimineer teen meer as 150 Afrikaanse studente ter wille van ‘n handjievol wat aandring op Engels. Die VF Plus sal indringend met die Wes-Kaapse LUR vir landbou vergader om hierdie aangeleentheid op te klaar,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403