Die VF Plus verwelkom die verkiesing van dr. Kenneth Jacobs van die ANC as nuwe voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid.
Dr. Jacobs is goed gekwalifiseerd in die mediese veld en het ses toepaslike grade wat hom ’n kundige op die mediese gebied maak. Hy is onder meer ’n wetenskaplike en mediese dokter.
Hierdie soort kundigheid en ervaring was lank ’n gebrek by die betrokke komitee en die VF Plus hoop dat die party ’n goeie werkverhouding met dr. Jacobs sal opbou in belang van almal in Suid-Afrika.
Dr. Jacobs sal hopelik ag slaan op die insette en menings van opposisiepartye en nie soos vorige voorsitters net die beleid van die ANC probeer bevorder en uitvoer nie.
Die taak voor dr. Jacobs en die komitee is enorm en die VF Plus wens hom sterkte toe daarmee.