(Parlementêre debat: Mosie van wantroue in die kabinet)
‘n Mosie van wantroue teen die kabinet sal nouliks slaag omdat mense nie teen hul eie onbevoegdheid sal stem nie. Tog is dit net ’n kwessie van tyd voordat die ANC as regering vervang word. Insluitend die kabinet.
Die ANC herinner aan ’n seerowerskip met ’n groot bemanning en genoeg ruimte om die geplunderde ware te berg.
Die rede vir hierdie groot bemanning kan gesien word in die ANC se nasionale konferensie (Nasrec) in 2017 toe duidelik geblyk het hoe die ANC se top-ses in twee gelyke kampe verdeel is.
Net so met die opgeblase kabinet waar die ANC ’n balans moes vind om al die onderskeie faksies in die party te akkommodeer. Van die SAKP, Cosatu, die vroueliga, militêre veterane en die jeug tot die Radikale Ekonomiese Transformasie (RET)-faksie.
Dit gaan vir die ANC nie oor wie die beste is om die werk te doen nie, maar oor wie geakkommodeer moet word om hierdie balans te handhaaf.
Die ANC wil dit laat klink of dit wonderlik gaan in Suid-Afrika, maar die realiteit skets ’n ander prentjie. Die ekonomiese mislukking en werkloosheid is voldoende bewys hiervan.
Voeg daarby die mislukking van kleinsake-ontwikkeling, vervalle infrastruktuur, paaie vol slaggate en spoorlyne en stasies wat letterlik weggedra en vernietig word.
Tog sien die minister van vervoer, Fikile Mbalula, soos sy kabinetskollegas, geen probleem nie en meen die regering vaar uitstekend.
Die ANC spog voorts oor sy gewaande prestasies dat hy elke politieke slag as regering gewen het. Hierdie is egter sy grootste denkfout aangesien die slag reeds verloor is.
Hierdie slag gaan oor die hart en vertroue van die land se kiesers. Dit is verloor omdat dit vir die ANC net gaan oor mag en hoe om daaraan vas te klou, ongeag die kiesers.
Die regerende party het niks meer te bied vir die mense van Suid-Afrika nie. Meningspeilings wys duidelik dat die kiesers vertroue in hom verloor het. Die ANC se swanesang het aangebreek.