Die VF Plus lê die blaam vir die huidige waterkrisis in die Nelson Mandelabaai-metro voor die deur van die metroraad (NMBM).
Die party het die metro die afgelope twee jaar gereeld gewaarsku om die nodige voorsorgmaatreëls in plek te stel vir ‘n moontlike waterskaarste, asook om daadwerklik aandag te skenk aan waterlekkasies wat soms maande neem om herstel te word.
Die metro verloor meer as 33% van sy drinkbare water deur lekkasies wat nie dadelik herstel word nie.
Volgens die burgemeester van die NMBM, Nqaba Bhanga, is daar net nog genoeg water oor vir agt maande indien dit nie voldoende reën in dié tydperk nie.
Die metro het nou ‘n beroep gedoen op nasionale tesourie om R188 miljoen van die droogtehulpfonds terug te betaal aan die metro om te help met die krisis. Dié bedrag is aan die metro gegee vir droogtehulp, maar is nie in die vorige finansiële jaar bestee nie en moes aan nasionale tesourie teruggegee word.
Die VF Plus verwag van die burgemeester om ‘n plan van aksie op die tafel te plaas oor hoe die R188 miljoen aangewend gaan word om die waternood te verlig en om te beplan vir ‘n situasie as bruikbare water opraak.
Een van die metro se huidige oplossings is om waterverbruik in sommige gevalle te beperk tot 500 liter per dag deur die installering van waterbeperkers in inwoners se watermeters. Die beperkers sal die vloei van water na elke inwoner dwarsoor die stad beheer en beperk. Inwoners wat meer gebruik as die vasgestelde 500 liter per dag of 15 kiloliter per maand, se water sal afgesny word.
Die VF Plus is nie ten gunste van die aanbring van waterbeperkers nie. Dit is duur en die geld kan eerder aangewend word vir die herstel van infrastruktuur.
Inwoners word nou gestraf vir die metroraad se onvermoë om sy waterinfrastruktuur in stand te hou.
Sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie-inperking, is weeklikse bevelsraad-vergaderings gehou tussen die lede van die wetgewer en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, waartydens die VF Plus die premier herhaaldelik gevra het oor herstelwerk aan die bestaande 16 000 lekkasies in NMBM asook oor nuwe lekkasies wat aangemeld word.
Die VF Plus moedig inwoners in die metro aan om deurlopend druk op die munisipaliteit uit te oefen deur alle waterlekkasies sonder skroom aan te meld en om daarop aan te dring dat dit dadelik herstel word.
Die party sal in die belang van alle inwoners van die metro aanhou om met alles in sy vermoë te veg vir gehalte dienslewering.
Navrae: 082 822 3414