fbpx
Vryheidsfront Plus

n Nuwe bedeling in Pretoria

Die VF Plus verwelkom die nuwe era wat vir Pretorianers aangebreek het met die verkiesing van Stevens Mokgalapa as nuwe burgemeester.

In sy verwelkomingstoespraak het rdl. Sakkie du Plooy die VF Plus se waardering uitgespreek vir die burgemeester se openlike geloofsverklaring en die hoë waarde wat hy heg aan gesonde gesinsverhoudinge. Dit behoort hom in staat te stel om die uitdagings van die Tshwane-metroraad met mening te hanteer.

Dienslewering word ernstig in Pretoria belemmer deur onder meer korrupte amptenare wat enersyds hulself verryk en andersyds die ondergrawingsagenda van die ANC bevorder.

Die ANC gebruik amptenare om hul dagtake so te doen dat administratiewe-prosesse vertraag word en dienslewering laag is sodat dit lyk asof die veelpartyregering in Tshwane-metro ‘n mislukking is. Die VF Plus vertrou dat die nuwe burgemeester spoedig en baie streng teen sulke personeel sal optree.

Die VF Plus waardeer Mokgalapa se klem op die opskerping van die veiligheidsdienste wat die metropolisie aan Pretorianers bied. Metropolisielede moet nie net sigbaar op straathoeke wees nie, maar moet daadwerklik misdaad bekamp.

Kabeldiefstal kos die inwoners van Pretoria miljoene rande. In November 2018 alleen is 17km se elektriese kabels in die Pretoria-metrogebied gesteel. Dit moes ten duurste vervang word.

Die VF Plus verwag van die burgemeester om duur ondergrondse kabels en substasies te beskerm en onverwyld gebruik te maak van beskikbare tegnologie wat die kabeldiefstaleenheid vroegtydig sal waarsku as diewe aan kabels begin peuter.

Dienste kan ten beste gelewer word deur bekwame en goed opgeleide amptenare. Die VF Plus versoek die burgemeester om amptenare bloot op meriete aan te stel en nie rasseteikens na te jaag nie.

Die VF Plus vertrou dat die nuwe burgemeester spoedig sal handel met nuttelose uitgawes, soos die miljoene rande wat die inwoners van Pretoria steeds betaal aan die PEU-betaalmeterkontrak.

Ons vertrou Mokgalapa sal al hierdie knelpunte deeglik en dringend aanspreek. Daarom sal die VF Plus hom ondersteun in al sy maatreëls en pogings om Pretoria ‘n beter plek te maak vir almal wat hier woon en werk.

Die VF Plus sal egter as verantwoordelike koalisievennoot ook die DA verantwoordbaar hou.

 

Kontaknommer: 083 448 9473

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.