fbpx
Vryheidsfront Plus

Munisipale ingrypingsmodel net nóg ANC-propaganda

Dit is duidelik dat die ANC-regering nog geen konkrete oplossing het vir die verval van munisipaliteite landwyd nie en die jongste munisipale ingrypingsmodel is net nóg ANC-propaganda.

Dit blyk duidelik uit ‘n antwoord van die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Zuma, op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus oor die vordering van die implementering van die regering se streekontwikkelingsmodel.

Dié model het dit ten doel om sukkelende plaaslike munisipaliteite reg te ruk.

Pres. Cyril Ramaphosa het hierdie nuwe beleid reeds vroeg in 2019 aan die groot klok gehang met ‘n aankondiging dat die wanfunksionele Mamusa-plaaslike munisipaliteit reeds by die plan baat gevind het.

In haar antwoord op die VF Plus-vraag het minister Zuma gesê die regering het reeds R88 miljoen aan die uitrol van die plan bestee, maar dat dit nog in ‘n ontwikkeling- en beplanningsfase is.

Daar is wel kantore bekom en personeel aangestel met die oog daarop om drie geïdentifiseerde plaaslike munisipaliteite as loodsprojekte by te staan.

Die eThekwini-, OR Tambo- en Waterberg-munisipaliteit is hiervoor geïdentifiseer.

Geen melding van enige konkrete ingryping of sukses met die herstel van dienslewering by hierdie munisipaliteite of elders word egter genoem nie. Dít na bykans vier jaar sedert die model met groot fanfare aangekondig is.

Teen hierdie trant is dit duidelik dat die model net nóg ANC-propaganda is wat teen astronomiese bedrae belastinggeld gefinansier moet word met geen voordeel vir die land se inwoners nie.

Hierdie stand van sake belig weer die ANC-regering se onvermoë om daadwerklike en voor die hand liggende stappe te neem om basiese dienslewering in plaaslike munisipaliteite te herstel.

Suid-Afrikaners verdien beter as mooiklinkende ANC-propaganda en beloftes wat telkens op niks uitloop nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.