fbpx
Vryheidsfront Plus

MRK ondersoek diensleweringsprobleme op VF Plus aandrang in Renosterberg-plaaslike munisipaliteit

Die menseregtekommissie (MRK) het na vele klagte van die VF Plus oor die swak dienslewering van die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit (Petrusville, Philipstown, Van der Kloof) verlede week die munisipaliteit besoek.

Die klagte handel onder meer oor rioolstorting in die Vanderkloofdam, Eskom se straf-beurtkrag wat tot agt uur per dag duur en die gebrek aan voldoende watervoorsiening in Philipstown.

Die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit is reeds onder administrasie geplaas weens wanbestuur. Dit het geen vrug afgewerp nie aangesien gemeenskappe steeds onder swak dienslewering gebuk gaan.

Mnr. Anthony Wyngaard van die MRK is op sy oorsigbesoek vergesel van Theo Joubert, VF Plus-voorsitter van die Noord-Kaapse regskomitee en die VF Plus-kandidaat in Vanderkloof, Lorna Myburgh, asook Karin Depken, VF Plus-kandidaat in Philipstown wat die probleme wat hul onderskeie dorpe teister, aan hom uitgewys het.

Mnr. Wyngaard het aan die VF Plus bevestig dat die klagte van beweerde menseregteskendings wel meriete dra en dat ‘n volledige verslag met aanbevelings en oplossings opgestel sal word.

Die MRK is tans ook besig om soortgelyke klagte in verskeie Noord-Kaapse munisipaliteite te ondersoek onder meer die een van die VF Plus oor rioolstortings in Kuruman.

Wyngaard het ook onderneem om die gebrek aan lopende water by die kliniek in Philipstown verder te ondersoek.

Voordat ‘n gemeenskapsgroep onder leiding van Depken watertenks by die kliniek aangebring het, moes water in houers van ‘n kraan na die kliniek geneem word. Daar was ook geen spoeltoilet-geriewe vir personeel of pasiënte nie.

Die VF Plus verwelkom die ondersoek van die MRK en vertrou dat die nodige stappe geneem sal word om ‘n einde te bring aan Renosterberg se swak dienslewering en menseregteskendings.

Die VF Plus is daartoe verbind om onbevoegde munisipale besture tot verantwoording te roep en doen ‘n beroep op inwoners om op 1 November saam met die VF Plus op te staan en ‘n sterk boodskap te stuur dat die verval nie langer geduld sal word nie. Dit kan gestop word.

Navrae: 072 938 8588

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.